Liefde vir die geveerde gediertes

Alternatiewe Anna

Old Man River het nog altyd ʼn groot liefde vir die geveerde gediertes gehad. Ek praat nou van hoenders, eende, ganse. Al daardie gediertes wat klaarblyklik so mak soos die spreekwoordelike lammertjies in sy geselskap is. Sy “troeteldiere” het al menige geveg veroorsaak. Soos sy sout en peper hoendertjies.

Ek, Anna, was so ver swanger gewees dat ek nie eers meer wou loop nie. As ek op my knieë kon gaan, het ek definitief gebid vir verlossing van hierdie vreeslike baba wat my hart, my blaas en my eierstokke om die beurt vertrap of geskop het. Maar nou ja, dit het ook verby gegaan. Ewenwel, hierdie hoendertjies het elke dag, net nadat ek die stoep in my toestand gevee het, besluit om blertse daar te los. Wat ek dan moes skoonmaak.

Toe ek my oudste se kettie sien, kry ek ʼn blink idee en sê hom aan om vir my ʼn sak klippe te gaan bymekaar maak. Nadat hy hierdie kettie projektiele by my aangebring het, het ek eers mooi geoefen hoe die ding werk. Die volgende oggend, toe hierdie geveerde gevaarte nog dink sy beblerts my stoep, toe tref die klip haar, so mooi in die hurk slag. Waarna sy met gekekkel en ʼn gekyf daar weg spring,  reguit na OMR om te gaan kla oor die mishandeling.

Teen dag twee skiet ek so goed ek tref elke keer die bull’s eye en my stoep bly skoon. Teen dag vyf loop hierdie hoendertjies ʼn draai om die stoep en as hulle my sien met die kettie, hardloop hulle gillende en kekkelende daar weg. OMR was baie ontsteld oor sy “hoennerkies”, maar het vinnig stil gebly toe ek met die kettie vir hom mik. Nou, dit was destyds gewees.

Hy het nou weer so twee weke terug met sy streke begin. Die keer ganse. En as daar nou een geveerde gedierte is waarvoor ek vreeslik versigtig is, dit hierdie wit goed met die lang nekke en die Madiba shuffle loopstyl. Hulle raas en knyp-draai-byt-pik, alles op een slag. OMR redeneer so dat geen skelm die erf sal inkom met die goed nie. Hy redeneer dat hulle meer op en wakker is as honde. En hulle sal die lang gras vreet, dan hoef hy dit nie te sny nie. En al die oorskietpap en rys kan na hulle toe gaan.

Wragtig, laas week toe bring hy mos  die twee raasgat goeters hier aan. “Ag, kyk hoe mooi is hulle,” probeer hy my vertel. Daar waar OMR in die tuin loop, volg die verdomde goed hom, soos twee oorlamse wag-eende. Nou kyk, daardie goed maak sulke groen glertse orals. Dit is nie blertse nie, nee. Dit is meer soos superglue blertse want mens kan nie beweeg as jy in dit getrap het nie, so gril jy. Net daar besluit ek die goed moet ʼn hok kry of op ʼn ketting gehou word. En OMR weier. Hulle is daar om die gras te sny en die goggas te eet en hulle sal los rondloop. Klaar gepraat.

Wel, ek het niks gesê nie. net my handsak gegryp en dorp toe gestorm. Terug by die huis het ek doodstil my aankope uitgepak op die tafel. Een kettie en 3 sakke met albasters… Gevaarlike projektiele vir my nuwe kettie. OMR het dit een kyk gegee en verdwyn, dorp toe…

Ag wat, ek sal maar vir hom bier aandra daar waar hy besig is om ʼn hok te bou. Ek sien hy sukkel maar so bietjie. Anna 10 – ganse 0. OMR? Minus 5…

Leave a Reply