Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Kyk, ek is nou net mooi moedeloos. My probleem word net meer, nie minder nie. Old Man River sê dit is oor ek self my probleme wil oplos en nie wag totdat hy my kan help nie. Miskien is dit die waarheid, maar ongeduld is een van my karaktereienskappe en niks op aarde gaan my leer geduldig wees nie.

Sien, die hele ding is as gevolg van die alewige huiswerk wat ek moet doen. Ek sal veel eerder ander dinge wil doen wat ten minste nie geduld verg nie. Eers wou die wasmasjien nie mooi was nie en die spinner loop vol water wat nie wil uitloop nie. Nou praat ek nie van ʼn grand wasmasjien nie. Nee, hierdie is sommer ʼn gewone twin-tub-help-my-was.

Ek het mooi gevra en weer gevra, maar OMR kry mos nie tyd om dit te fix nie. Nee, in die aand is hy te moeg of kan nie mooi sien nie, in die oggend is daar nie tyd nie en lunch tye eet hy baie lank aan sy kos. Ek gedreig en beloftes gemaak, maar die masjien bly stukkend.

Twee weke gaan verby en naderhand het OMR nie meer klere om aan te trek nie. “Anna, waar’s my klere?” wil hy weet. “Jou klere lê in die wit olifant. Jy sal maar moet recycle as jy iets wil aantrek,” deel ek hom snipperig mee. Teen week drie is daar so ʼn wavrag vol vuil wasgoed dat tien weeshuis wasmasjiene ten minste 24 uur aanmekaar daaraan sal was.

Een oggend sien ek daar gaan OMR met ʼn swart sak vol van iets. “Wat het jy in daardie sak?” wil ek weet. “My vuil wasgoed, Anna. Die weduwee by die werk het gesê ek moet dit bring, sy sal dit vir my was,” deel hy my ewe snipperig mee en daar gaat hy. My humeur ruk hand uit en ek storm die garage in. Ek sal self die bleddie wasmasjien fix as OMR nie wil nie. Ek gryp skroewedraaiers, spanners, tange en selfs die hamer en sleep die wasmasjien mooi in die middel van die waskamer se vloer.

Ag, nie lank nie toe lê die hele ding in stukke en parte orals. En ek het nie ʼn idee hoe om dit weer aanmekaar te sit nie. Vuil en moedeloos gaan val ek op my bed neer en snik myself aan die slaap, baie jammer vir myself. Dit was laat toe OMR my wakker maak en vra wat ek nou eintlik gedink het. “Nie veel nie…” is my vae, dik-oog antwoord. Net daar onthou ek dat ek eintlik kwaad is. “Het die simpel weduwee jou wasgoed gewas?” vra ek heel mislik.

“Nee, Anna. Maar jy gaan my wasgoed was. Kom kyk,” sê OMR. Sleepvoet sit ek af kombuis toe en daar staan die mooiste wit olifant wat ek nog gesien het en ek tjank van voor af. “Net so dat jy weet, Anna. Die swart sak was vol tuinvullis wat ek uitgedra het. As ek my wasgoed vir die weduwee gaan gee het, is ek seker was jy vandag ook ʼn weduwee…”

 

Leave a Reply