Botter saam met die biltong

Entertainment

Michele du Plessis

Vandag is biltong ʼn duur, maar tog uiters gewilde lekkerny. Wie durf nou rugby, krieket of die lang pad sonder biltong aan? Dit is mos deel van ons kos geskiedenis, of hoe? Maar waar kom dit vandaan?

Die geskiedenis van biltong:  Lady Anne Barnard het na haar reis na die binneland aan die einde van die agtiende eeu geskryf oor hoe die mense botter op hulle biltong smeer. Botter is net gebruik vir brood, aartappels of biltong, het sy geskryf.

In die tyd van Jan van Riebeeck is die woord “biltong”, onbekend gewees. Hy het verwys na gedroogde robvleis en gedroogte snoek. “Volgens Van Oordt kom die vroegste bekende gebruik van die woord biltong voor in ‘n brief wat in 1708 uit Mauritius aan goewerneur Van Assenburg geskryf is. Die persoon het geskryf dat hulle die swakste deel van die bees geëet het, maar die “bulten en tongen” ingesout het en sou aanstuur. Eintlik was die korrekte vorm billen en tongen. Bil word deur Van Dale beskryf as “elk der beide delen van het zitvlak.” Die bil in biltong verwys dus na die geronde dik boudspiere, terwyl tong verwys na die plat spiere wat soos tonge lyk.”

Biltong is aan die Kaap as ‘n waardevolle voedsel beskou omdat dit nie bederf het nie, lig was en dus ideaal was om op ‘n reis mee te neem. Dat biltong deel van die Boerekostradisie – geword het, was omdat biltong waarskynlik reeds in dele van die Duitssprekende gebiede in Europa bekend was vóór die stigting van die Kaapse verversingspos.

Johanna Duminy het die woord biltong ook in 1797 in haar dagboek gebruik toe sy vertel het dat sy die werkers aangesê het om die bontebokke te slag “…en de biltonge uyt te snijde.”

Naas die gebruik van die woord biltong kom die woord tasal in manuskripte voor. Duckitt het tasal as ‘n opskrif met biltong in hakies geskryf. Die betekenis van die woord is ook in 1920 se Junie-uitgawe van Die Boerevrou verduidelik. Duckitt beskryf tasalle as dun repe sagte vleis (veral skaapvleis) maar volgens Die Boerevrou is dit ook ribstukke van tot vier ribbe van ‘n skaap of jong vark wat soos biltong gesout en gespesery is voordat dit winddroog gemaak is. Duckitt het genoem dat tasalle deel van reisigers se proviand was. Wanneer dit benodig is, is dit in water geweek en daarna gebraai. In die uitgawe van Die Boerevrou word ook daarna as toutjiesvleis verwys.

Onder die veeboere het ‘n eiesoortige koskultuur ontstaan waarvan biltong – wat vandag ‘n belangrike plek in die Afrikaner se koskultuur beklee – soms die enigste kos was. “Petrus Borcherds het vertel dat die mense in die eerste kwart van die negentiende eeu by gebrek aan vars vleis maande lank op slegs biltong kon lewe en tog blakend gesond daar uitgesien het. Lichtenstein het vertel dat daar daagliks vir ‘n huishouding van twintig mense drie tot vier skape van 36 tot 40 pond geslag.”

Inligting uit HW Claassens se boek, Die Geskiedenis van Boerekos 1652-1806.

Leave a Reply