Helpende Hand help met katarakte

Social

Michele du Plessis

Solidariteit Helpende Hand beywer hulle om behoeftige bejaardes se lot te verlig. Hulle het ʼn projek van stapel gestuur waarmee hulle beoog om bejaardes wat daarvoor kwalifiseer, te help om katarakchirurgie te ondergaan.

“Soos wat mens ouer word, verswak jou visie met tyd. Katarakte, onder bejaardes, is ʼn groot probleem. Volgens die National Eye Institute (NEI) het bejaardes teen die ouderdom van 80 jaar ʼn katarak of het dit alreeds chirurgies laat verwyder. Bejaardes tussen die ouderdom van 75 en 85 veg ook die stryd dat ʼn gedeelte van hulle visie belemmer word as gevolg van katarakte,” het Benette Rautenbach, Projekorganiseerder: Bejaardes en Internasionale Skakeling, gesê.

“Vir baie bejaardes is dit ʼn traumatiese ervaring omdat hulle nie altyd die verandering begryp nie. Daaglikse aktiwiteite soos lees en kosmaak raak by die dag meer uitdagend, bekendes se gesigte lyk anders en bejaardes se veiligheid word ook in gedrang gestel. Spoed en effektiwiteit verminder ook drasties. Alledaagse take en aktiwiteite raak stremmend en het dus ʼn groot invloed op bejaardes se gemoed.”

ʼn Katarak is ʼn opeenhoping van proteïen op die ooglens wat die persoon se visie beïnvloed. Katarakte word dikwels vereenselwig met persone wat al ʼn rype ouderdom bereik het. Dit is as gevolg van die lens wat “oorwerk” raak met die jare se gebruik.

Simptome van katarakte is nie altyd voor die hand liggend nie. Die rede hiervoor is dat dit jare vat voordat mense bewus raak van die simptome van katarakte. Mense pas hul leefstyle geleidelik aan by die verandering. Kleure en visie vervaag dikwels, die glans van die ooglens word beïnvloed, en katarakte lei ook dikwels na swak nagvisie asook dubbelvisie.

Helpende Hand vat vanjaar hande met Dr. MC Niemand in Pretoria, wat jaarliks ʼn aantal behoeftige bejaardes se las ligter maak deur katarakchirurgie, tydens International Eye Care Awareness – week. Vir ʼn aansoekvorm of meer inligting oor die projek, stuur gerus ʼn epos na benetterautenbach@helpendehand.co.za.

Leave a Reply