Wees ʼn Superhero vir Karnallie

Schools

Michele du Plessis

Na die onlangse sukses van Karnallie kleuterskool se sportdag, het Juffrou Petro Breytenbach, eienaar en hoof van Karnallie Kleuterskool, besluit dit is hoogtyd vir ʼn volgende gesinsdag.

Nie net sal die “Ultimate Superhero Race: Karnallie Edition” ʼn dag wees waar die hele gesin by betrek kan word nie, maar sal ook dien as ʼn fondsinsameling vir die kleuterskool. Hierdie Superhero Race en pret dag word op die York Sportsgronde aangebied.

Amri Burger, organiseerders onder die leiding van Petro Breytenbach, en met die hulp van die personeel en ouers wat graag betrokke wil wees by hulle kinders se skool, het verduidelik hoekom die gesinsdag gereël word.

“Daar is baie instandhoudingswerk wat gedoen moet word. Ook sal ons graag die kleuterskool wil vergroot dat meer kinders toegelaat kan word. Daar is op die oomblik 80 kinders by die kleuterskool en daar is ʼn groot aanvraag om nog kinders te kan toelaat,” het Amri Burger verduidelik. “Ons wil ook graag meer opvoedkundige speelgoed aankoop en daar is die moontlikheid om die personeel meer opleiding te laat kry. Dit is tot almal se voordeel. Ouers wil graag die beste vir hulle kinders hê en met so ʼn fondsinsameling wat deur die gemeenskap ondersteun word, kan die kleuterskool net verbeter word.”

Die organiseerders het groot planne vir die dag. “Daar is twee roetes en afstande, naamlik ʼn 5km Super Hero Race en ʼn 2.5km PramJam. Op die 2.5 km roete sal “Super Villians” wees waar ʼn “fun stop” sal wees. By hierdie Villian Points sal daar bv. ‘n plank wees waar jy moet oorloop of iets soortgelyks wat dit nie net vir die kinders, maar ook die ouers prettig sal maak. Ook moedig ons die ouers aan om nie net hulle kinders as Superheroes aan te trek nie, maar hulself ook.”

“Dan natuurlik sal daar stalletjies wees en hope vermaak vir almal. Daar sal vermaak wees deur die dag, ʼn teetuin, ʼn spesiale roete vir ouers en kleuters, en natuurlik sal daar ook ʼn speelplek wees vir die heel kleintjies.”

Die dag beloof om propvol pret te wees vir die hele gesin. Daar sal “early bird” inskrywings beskikbaar wees op die Facebook blad wat geskep is vir die gesinsdag en al die nodige inligting sal ook daar beskikbaar wees. Daar word ook ʼn beroep op besighede en individue gedoen om te sorg vir ʼn Villian Point op die roete. Vir diegene wat graag ʼn stalletjie op die dag wil hê, of wat ʼn donasie of skenking wil gee,  kontak gerus vir Amri Burger op 076 200 4428.

 

Leave a Reply