Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Old Man River is mos so ʼn geskiedenis neut, weet alles van sy voorvaders en moeders af, weet wie het waar gesterf gedurende die Boere oorlog, die hele storie van die Voortrekkers… Mens sou sweer hy het persoonlik in die Boere oorlog baklei en dat hy vir Dik Dingaan self wou gaan skiet het. Kindergraffies en konsentrasie kamp monumente maak hom skoon bewoë. Vir my ook, maar oor heeltemal ander redes…

Hy kan vir ure lank in een of ander stowwerige museum rondloop en kennis versamel. Sieldodend, ʼn straf vir die oningeligte, die sonder belangstelling, die kultuurlose self gesentreerde individu – dis nou ek, Anna – wat erg teensinnig agterna sleepvoet. Maar dit daar gelaat.

Nou het OMR met ʼn ander idee gekom. Hy wil kwansuis die Voortrekkers se roete vanuit die Kaap terugspoor en dit sal sommer ons jaarlikse vakansie wees ook. Nou kyk, dit is nie ʼn vakansie nie. Dit sal ʼn straf wees en ek met my opmerkings gaan nog in die skei hof beland en dit oor flippen geskiedenis. Met elke greintjie van my wese skop ek vas teen hierdie onsinnige plan van OMR.

Ek print goed van die internet af wat sê: Kyk net hoe spierwit is ons strand! Ons kan na een plek toe ry, daar gerieflik in ʼn chalet gaan bly en ek hoef niks te doen vir die hele tyd nie. Geen museums, geen begraafplase nie. Maar OMR hou voet by stuk. Ons gaan die roete doen – kant en klaar. En ek wat Anna is, sien baie swarigheid voor my opdoem.

Ek oorweeg dit selfs om dodelik siek te word met ʼn geheimsinnige siekte sodat die dokters nie kan vasstel wat fout is nie. Maar daar het OMR my ook uitoorlê. “Geen siek-speel nie, hoor jy Anna!” Nou ja, om bloedvergieting te voorkom, sal ek seker maar moet saam piekel. So ja, ek gaan soek toe nou maar vir my ʼn paar goeie stap stewels, dik wolkouse en ʼn groot genoeg hoed want daar is nie ʼn manier dat ek ʼn kappie op my kop gaan sit nie.

Dag vir dag loop ek nou maar die steweltjies in; ons gaan mos vir dae, weke aan mekaar vasgepleister wees. Ek oefen met gewigte, probeer fiks word en berei myself geestelik voor op die hele ordeal wat voorlê. So ʼn week voor die tyd koop ek voorraad aan, sommer bokse vol. Biltong en beskuit en koffiemoer en broodmeel. Pak alles in die spaarkamer, reg om gelaai te word…

Ewenwel, die groot dag breek aan en dou voor dag is ek op, gereed om die spul goed vrou alleen uit te dra buiten toe. Ek het so geoefen ek sal die wa op my skouers oor die Drakensberge kan dra. Maar nie kaalvoet nie. Daar trek ek die streep. 5 Uur die oggend skud ek OMR uit die vere. “Nou toe, wanneer kom die wa en osse hier aan?” wil ek vies weet. “Waarvan praat jy, Anna?” wil hy weet. “Hierdie hele Voortrekker storie ding van jou. Jy wil mos die roete terug trace. Soos wat jou voorouers gedoen het. Toe, ek wil pak sodat ons ten minste vanaand iewers by ʼn camp site kan uitspan. Ek slaap nie in die veld nie en ek het warm water nodig. Toe, staan nou op!” por ek hom aan.

En daar breek alle hel los. Misverstand met kommunikasie. Moerse misverstand van etniese proporsies. Soos gewoonlik het ek my eie gevolgtrekkings gemaak. Gesien hoe ek vrou alleen die wa oor die berge moet dra, die osse moet kos gee, die klippe voor die wa se wiele uitpik…my hande bloed belope werk… En OMR lag vir my. In so ʼn mate dat sy bene collapse en hy op die bed terug val.

Vir sy straf moes hy al die bokse proviand man alleen terug dra. My 12 bokse wyn ook. “Anna, volgende keer, don’t assume,” het OMR my laggend mee gedeel. Ek sal maar wyn drink en kyk hoe hy swoeg…

Leave a Reply