Raad en daad deur Antie Pohl by Innibos

Social

Michele du Plessis

Antie Pohl, ʼn verhoog produksie, is ʼn twee-persoon komedie waarin  ʼn akteur en aktrise ʼn verskeidenheid van rolle speel.

Antie Pool is ʼn “prim-en-propper” middeljarige vrou  wat so neffens op Anna Neethling-Pohl trek. Sy het ʼn ‘Vra vir Antie Pohl’ raadgee-kolom in ʼn bekende tydskrif.

“Die Crux van die kolom is die verskille tussen mense (die teen-pole of anti-pole), veral in verhoudings. Sy sit by haar lessenaar en lees briewe. Sy roep kort-kort na haar man om tog vir haar ʼn koppie tee te bring. Deur die play hoor ons hom belowe, sien hom amper, maar hy kom eers heel aan die einde te voorskyn. Hy lewer ook vanuit die agtergrond kommentaar op haar raad,” het Barry van Rensburg van Windgat Produksies gesê.

Sy lees en deurdink die gesketste situasies in die briewe en skryf haar antwoorde.

Die situasies in die briewe en die gegewe raad word dan uitgespeel deur die twee akteurs. Brûe tussen Antie Pohl-by-haar-lessenaar en die uitgespeelde situasies word bewerkstellig deur stemsnitte van die briefskrywers en stemsnitte van Antie Pool se raad. Gepaste musiek word ook gebruik word om stemming te skep.

“Die voorgestelde raad word in die uitbeeldings op die proef gestel. Soms werk dit, en soms ‘bom dit uit’. Soos gesê, fokus die briewe op die groot verskille tussen mense. Aanvanklike punte van aantrekkingskrag word baiemaal areas van konflik. Hierdie verskille lê op die terreine van persoonlikheid, agtergrond, behoeftes, waardes, om enkeles te noem,” vertel Barry.

Ofskoon die stuk uit grepe uit verskillende verhoudings bestaan, funksioneer die play as geheel; tog asof dit oor twee persone gaan wat sukkel om met mekaar se verskille oor die weg te kom.

“Al is ANTIE POHL op die gehoor se lagspiere gemik, vat dit die gehoor op emosionele sypaadjies en identifiseer jy gereeld met die situasies en persone op die verhoog. Die bekende komedie-akteurs Cobus Venter wat die gehate Ferdie in Binnelanders speel en Sorina Erasmus, die Flooze van 7de Laan, beloof om die play ʼn ekstra dimensie te gee. Antie Pohl bly deurgaans ʼn komedie, maar dis humor wat hoop gee,” het Barry gesê.

Leave a Reply