Barry, skrywer van Antie Pohl

Social

Michele du Plessis

Barry van Rensburg van Windgat Produksies is ʼn bekende skrywer en hierdie jaar gaan sy Antie Pohl produksie by Innibos nie net die lagspiere prikkel nie, maar ook so ʼn bietjie wysheid deurgee.

Barry het ook meer oor homself vertel. “In my vorige lewens het ek verskeie hoede opgehad, partymaal sommer ʼn paar oor mekaar. Ek was ʼn dominee, ʼn regisseur by SAUK(TV), lewensgids,  fasiliteerder van lewensvaardighede, aanbieder van studievaardighede.

My grootste ‘prestasie’ is egter my drie dogters en my ses kleinkinders. Ek is uit-en-uit ʼn mens-mens en my lewenservarings het my ʼn aanvoeling en openheid vir mense en hul behoeftes gegee. Dan is ek die ewige optimis, ʼn dromer en najaer van lewensvreugde.

Dit het gekulmineer in my skryfwerk. Ek het op ʼn baie laat stadium begin om ernstig te skryf. Maar ek skryf nie noodwendig ernstige goed nie. Komedies is my kos. Maar komedies met lewenswysheid. Ek noem my skryfwerk: HUMOR WAT HOOP GEE.

Ek is die skrywer van ʼn reeks komedies oor persoonlikheids-tipes, die sg. ‘gat’-plays:  daar is basies vier soorte mense in die wêreld –windgatte, slapgatte, hardegatte en banggatte. Die komedies was Annale van ʼn Windgat, Ballade van ʼn Banggat, Jou gat my Skat! en Die Woema van ʼn Windgat wyfie. Dan het ek ook nog ʼn komedie-drama Die Waarsêer geskryf, asook ʼn suiwer klug Balle in die Lug.

My plays het deur die jare ʼn plekkie by Innibos gevind, waaroor ek baie dankbaar is en Antie Pohl beloof om ewe-eens ʼn lokettreffer te wees,” het Barry gesê.

 

Leave a Reply