Die Wens klippie

Entertainment

Michele du Plessis

Lilly is ʼn klein dogtertjie en sy is 7 jaar oud. Sy bly saam met haar mamma op ʼn plaas buite ʼn groot dorp.  Lilly het ʼn vreeslike groot verbeelding en sy kan die mooiste stories uitdink, wat sy dan aan haar boetie, Sprinkaan, vertel. Sprinkaan is nie sy regte naam nie, maar omdat hy so baie eet, het hulle Ouma hom Sprinkaan begin noem. Lilly glo vas dat sy ʼn feetjie is en dat sy pragtige vlerkies het wat net sy en haar Ouma kan sien.

Eendag, toe Lilly buitekant speel, sien sy ʼn goue klippie op die grond lê. Nadat sy die klippie opgetel het, gaan wys sy haar Mamma en sê dat dit ʼn wens klippie is wat al haar wense gaan laat waar word. Daardie aand, toe Lilly in haar bedjie lê, hou sy die klippie styf vas en wens dat sy ʼn prinses was.

Die volgende oggend toe Lilly wakker word, is sy nie in haar eie bedjie of in haar eie kamer nie! O gonna, waar was Lilly dan? Net toe Lilly begin bekommerd raak, toe kom ʼn kamer meisie by die deur in. “Goeie more, Prinses Lilly!” roep sy vrolik en sit ʼn skinkbord met kos voor Lilly neer. Lilly skrik haar dood en vra benoud: “Is ek nou ʼn prinses?” “Ja, natuurlik, Prinses Lilly. Jy was nog altyd ʼn prinses gewees. Toe, eet nou klaar sodat ek jou kan help aantrek.” “Waar is my Mamma?” wil Lilly weet.

“Jou Mamma sal vir die volgende ses maande nie hier wees nie. Het jy dan vergeet?” O nee, dink Lilly. Hierdie prinses storie gaan nie werk nie. Dadelik hou sy die klippie styf in haar hand vas en wens om in haar eie bedjie te kan wakker word. Woeps, en Lilly is terug in haar eie bedjie. Opgewonde vertel sy haar Mamma dat sy ʼn prinses was wat in ʼn kasteel gewoon het. Haar Mamma lag net en vertel vir Lilly dat dit net ʼn droom was.

Daardie aand wens Lilly dat sy ʼn meermin kan wees. Die volgende oggend word sy wakker in die groot, wye see en wens vinnig dat sy terug by die huis is toe ʼn kwaai haai op haar afswem. Die volgende aand wens sy dat ʼn ponie met reënboog maanhare het en word wakker toe die ponie haar hare probeer opeet. Gou-gou wens sy dat die ponie terug is by sy eie weiveld.

Elke oggend vertel Lilly vir haar mamma ʼn ander wonderlike storie en elke keer sê haar mamma dat sy gedroom het. maar, Lilly weet dit was nie net ʼn droom nie. Sy het dan die goue wens klippie wat al haar drome laat waar word. Selfs die droom dat die skool moet sluit vir die vakansie.

Leave a Reply