Op pad…

Op pad

Lieze Loots

Ek glo… in genade. In genade genoeg… vir elke dag. Vir elke oomblik en elke moment. Vir elke niks-beduidende niks-doen-minuut… en elke emosioneel gelaaide onthou-herinnering.  Elke vinnig-verbygaande sekonde en elke jaar se seisoene. Genade genoeg vir elke dag se wakkerword. Elke dag se opstaan en deurstaan. Elke nuwe môre se uitsien na ou en nuwe dinge.  Genade om te sien en te ervaar… Om te hoor en te luister na ons Vader se stem… Genade genoeg in elke tree op elke pad gestap. Genade om elke draai te herken. Om elke berg te óór en elke kloof te déúr. Genade om elke stryd te wen en elke oorwinning te behaal.  Genade genoeg om vrede te ontdek en  liefde te leer ken.

Maar veral genade genoeg om dít te sien en te hoor en te weet… dat die plan en pad van God Goddelik is. Beplan en voorberei en uitgevoer. Nie sommer maar net nie… In die fynste detail denkbaar.  Amper óndenkbaar en wonder, dat daar soveel versigtige sorg en voorbereiding ten toon gestel word… Uitgebasuin word… Daardie oomblik wanneer alles net in plek val. Wanneer alles verklaar word. As vraagtekens uitroeptekens word. Daar is beslis genade genoeg om maar net te vertrou… onwankelbaar, met alles wat jy is. Omdat jy weet wat jy weet… dat die God wat álles in sy handpalm vás vashou… beslis ook weet van jou. Beslis jou paaie reeds voorberei het…  reeds jou berge in gelykpaaie verander het… Dán kan jy met vertroue volhard… voltooi … en onbevrees… net

wéés.

 

Leave a Reply