Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

As daar nou een ding is wat ek, Anna, nog altyd wou gehad het, is dit ʼn visdam. ʼn Visdam met van daardie Japanese vissies in. Koi visse, as ek dit nie mis het nie. Nou die eerste ding wat gedoen moet word is ʼn visdam moet gegrou word en dan gesement word en al daardie dinge wat daarmee gepaard gaan. Ek is seker Google sal my presies kan sê hoe dit gedoen moet word as Old Man River my nie wil help nie. Ek het mos al gevra vir ʼn visdam en hy het net gesê anner dag. Nou het ek besluit dit is anner dag en as hy my nie wil help nie, dan doen ek dit self…

Nadat ek mooi gevra het en letterlik gesmeek het, het hy net nog steeds gesê anner dag. Ek het toe maar geGoogle en mooi neer geskryf wat ek moet doen. Eers moet ek my spasie uitmeet. Dit het ek gedoen, sommer met die besem want ek reken die besem is lank genoeg. Twee besems die kant toe en een daai kant toe. En ek het mooi netjies die rand uitgespit soos ek dit wou hê en toe begin die groot grou werk. Op 2 mm is ek moeg. Baie moeg en ek oorweeg om iemand te kry wat kan grou.

Nie te lank nie, en ʼn man soek werk by die tuin hekkie. Hoeveel gaan jy my vra op daardie gat te grou, wil ek weet. “Wat wil die ou Madam maak?” wil hy weet. “Gaan jy die flowers inplant?” “Nee, ek gaan visse inplant,” verduidelik ek hom. Ons maak prys en hy begin spit. Ek reken ek kan op die stoep sit en na ʼn Koi vissie pet shop soek. Op Google. Hier teen so twee uur is die gat gegrou en ek vra hom of hy ken van sement. Ja, natuurlik, vertel hy my.

Hoeveel sement, wil ek weet. “Two bags en sand,” verduidelik hy my. “Waar gaan ons sand kry?” wil ek weet. “Hy is, daar…” beduie hy vaag en ek vat sy woord daarvoor. Dorp toe, sement gekoop en terug by die huis is die sand daar. Ek vra nie vrae nie en hy gee nie verduidelikings nie. “Waar hy is die groot plastiek?” wil hy weet. “Nee, o gonna! Ek weet nie.” Garage toe en ek kom op ʼn stuk grondseil af. Sleep dit buite toe en hy reken dit sal werk.

In is die grondseil, aangemaak is die sement en hy pleister en plant groot klippe op die kant. Man, my visdam lyk te mooi. Ek betaal hom en toe OMR na 5 by die huis opdaag, wys ek hom trots my visdam. “Is dit my grondseil?” wil hy befoeterd weet. “Nee, dis die buurman sin,” antwoord ek snipperig en OMR sien dit is beter om stil te bly. “Nou maar goed. Dit lyk…aanvaarbaar.” deel hy my nors mee.

Laat daardie aand, nadat OMR bed toe is, sit ek nog in die sitkamer. Saam met my foon en na app. wat ek gedownload het. Naderhand kom OMR die sitkamer in gestrompel. “Anna, wat de duiwel doen jy? Dit klink soos ʼn diep gesprek in Fanakalô. Jy raas. Wat maak jy?” wil hy weet. Heel befoeterd antwoord ek hom. Sommer uit die hoogte uit.

“Ek leer Japannees,” antwoord ek hom. “Nou hoekom sal jy dit wil doen, Anna?” wil hy net so hooghartig weet. “Want dit is vir die vissies.” “Watter vissies, Anna?” “Die Koi vissies. Hulle is Japanese… Ek moet met hulle kan praat.” OMR het net sy kop geskud en terug bed toe geloop. “Ja, nou het ek alles gehoor,” was sy laaste woorde in die gang af…

Leave a Reply