Saartjie en haar skaduwee

Entertainment

Michele du Plessis

Saartjie is vyf jaar oud en bly op ʼn plaas saam met haar mamma en pappa. Saartjie is baie lief vir al die diere op die plaas en speel graag met hulle want sy het nie maatjies op die plaas nie. Dit is ook te ver om elke dag dorp toe te ry sodat sy kan kleuterskool toe gaan.

Elke oggend help Saartjie haar mamma om die hoenders, die ganse en die lammetjies kos te gee. Dan hardloop sy vooruit en roep die hoenders wat as hulle Saartjie sien, kom hulle opgewonde aangehardloop. Die ganse raas vreeslik as hulle Saartjie sien aankom en die lammetjies spring opgewonde rond want hulle weet dit is tyd vir hulle melk.

Een oggend help Saartjie weer haar mamma en hardloop vooruit na die hoenders toe. Skielik steek Saartjie vier voet vas, kyk rond en hardloop dan gillende na haar mamma toe terug. “Wat is fout, Saartjie?” vra Mamma verskrik. “Het iets jou gebyt of seergemaak?” “Nee, Mamma! Kyk, daar is ʼn donker ek wat agter my aan hardloop!” snik Saartjie terwyl sy haar oë styf toeknyp. “En die hoenders het ook donker hoenders!”

Mamma begin te lag en lag. Verskrik kyk Saartjie vir haar mamma. “Saartjie, dit is jou skaduwee en die hoenders se skaduwees! Kyk, ek wys jou,” sê Mamma. Saartjie kyk wat haar mamma doen en probeer om dieselfde te doen. Stadig maar seker word Saartjie se vrees vir die skaduwees minder en minder. Dan begin sy te lag. “Twee mammas en twee Saartjies en baie hoenders! Kom, Mamma, kom ons gaan kyk of die ganse en lammetjies ook skaduwees het,” babbel ʼn opgewonde Saartjie.

Die hele dag speel Saartjie met haar skaduwee. Sy hardloop resies en wen haar skaduwee, as Saartjie spring dan spring haar skaduwee ook. Naderhand roep Mamma vir Saartjie om in te kom want dit word donker. Maar Saartjie luister nie en sy kyk onder die bome en die struike en agter die blomme. Haar mamma besluit om te gaan kyk wat Saartjie verloor het dat sy so orals soek en nie wil inkom nie.

“Mamma, ek het my skaduwee verloor,” snik Saartjie. “Ek kry my skaduwee nêrens nie! Help my asseblief soek.” Saartjie se mamma vat Saartjie se handjie en verduidelik dat die son nou weg is en dat Saartjie se skaduwee nou eers weg is. “More as die son weer helder skyn sal jou skaduwee weer terug wees, Saartjie,” verduidelik Mamma. “Belowe Mamma?” vra ʼn bekommerde Saartjie. “Ek belowe jou,” sê haar mamma.

Waarlik, die volgende oggend vroeg gaan soek Saartjie haar skaduwee. Opgewonde hardloop sy terug huis toe. “Ek het my skaduwee gekry, Mamma! Mamma was reg gewees” sê Saartjie en gee haar mamma ʼn stywe drukkie. En woerts, weg is Saartjie! Sy speel rustig buite met haar skaduwee…

 

Leave a Reply