Op pad…

Op pad

Lieze Loots

Die bewyse van die vroeg-oggend se ligte reën hang nog oral rond…  Druppels wat knip-oog glinster in die son se opkom-strale… Die nat, ligte herfskoelte wat óm my bly hang…  Beloftes van ‘n mooi dag wat kom… Maar ook ‘n hartsherinnering aan die oorvloed van gister… Genade wat genoegsaam om my reën… Genade wat sorg vir ‘n leë houtkruis en oop graf… Genade wat sorg vir vergifnis… Vir vrede… Vryheid… En veral vreugde.

Want as jy met oop hande buite staan en wag, spoel die seën van genade óór jou, deur jou.. en kom lê die genade-druppels lank genoeg in jou hand, en klou die altyd-daar Teenwoordigheid lank genoeg teen jou hart vas… Genoegsame, oorvloedige, vrygewige, hemelse genade vir  vandag en môre én oormôre… Onverdiende vergifnis wat deel word van jou wese… genoeg om ook weer uit te deel… Die vrede wat jou verstand te bowe gaan, word deel van jou lewe en maak jou hartkamers vol… genoeg om te vertrou vir môre…

En saam met die dag wat getrou die druppels genade opdrink, verdwyn die bande van bitterheid en van seerkry en seer-onthou, van spyt-wees. En kan ons saam met die warm herfblaar-kleure, vry… die vreugde vier oor ons God se Godheid en grootheid en goedheid…

 

 

 

 

Leave a Reply