Alternatiewe Anna

Uncategorized

Kyk, ek weet nie aldag of Old Man River ʼn visserman of ʼn hengelaar is nie. Maar dit maak seker nie saak nie want al twee het iets met visse te doen. Wat saak maak is dat wanneer ons by ʼn dam verby ry, hy nie meer op die pad konsentreer nie, maar in sy verbeelding sien hoe hy Moby Dick man alleen wal toe sleep na ure se swoeg en sweet. En moet asseblief nie vergeet nie, dit met ʼn ligte visstokkie en ʼn piepklein hoekie en die dunste lyn moontlik. Die tipe ding waaroor epiese gedigte en lofsange geskryf word…

Maar ewenwel, wat ek eintlik wou gesê het is dat daar niks meer pateties is as ʼn visserman sonder ʼn dam nie. So ʼn ruk terug toe kry OMR mos die bevlieging om te gaan visvang. Ek verander in ʼn soutpilaar en se die koeie gaan my lek as ek naby ʼn dam kom, ek kan dit nie doen nie. En daar is muskiete, slange, paddas, goggas, die badkamers is 500 kilometer ver weg en… ek sal liewerster by die huis bly en die alles oppas. Soos dit ʼn geduldige, gedienstige en onderdanige vrou betaam…

Anyway, hy skraap toe ʼn makker nader en verklaar luidkeels dat hulle gaan visvang. Alles staan reeds die vorige dag al reg en ek reken so by myself dat dit meer lyk of hy wegloop as wat hy gaan visvang. Ses uur die volgende oggend pak hulle en ry. Hulle soek ʼn dam. Nie net enige dam nie, nee. Dit moet ʼn dam met visse wees, groot visse. Een uur bel ek en vra of hulle nou al daar is, waar daar ook al mag wees. Nee, hulle soek nog. Waar is julle, wil ek weet. Nee, hy is nie seker nie. Nou laat weet my as julle ʼn dam gekry het, vra ek.

Vyf uur bel ek weer. Het julle ʼn dam gekry? Ja, antwoord hy, en ek hoor hy is goed moerig. Waar, wil ek weet. Nee, hy is nie seker nie, maar daar is water en hopelik visse ook. Ek luister na sy verduideliking en reken by myself: HKGK. Is die tent opgeslaan, wil ek weet. Ja, mor hy en ek besef hierdie gesprek gaan nêrens heen nie. Gaan drink ʼn dop, stel ek voor. Veel later toe bel ek nou maar weer…

Nee, slurp OMR, hierdie plek raas te veel. Hier is nie visse nie. Ek tel tot by 10 en probeer weer. Nou waar is julle, wil ek nou heel befoeterd weet. Hier waar baie mense is en die dam is daar oorkant en hulle is baie bly hulle tent staan nou weer regop. Nou wat het dan gebeur, vra ek. Nee, sien die dinge staan nou so…

Nou ja kyk, daar is geen salf te smeer aan daai twee nie. By dam nommer een gekom, is die plek geslot en ketting. By dam nommer twee, is die dam nie rêrig sigbaar van die pad af nie wat die bossies staan hoër as die in ons tuin. Dam nommer drie, is by ʼn bekende vakansie oord en hier is duisende mense wat langs die dam kampeer en try visvang. En die tent staan nou weer nadat hulle hom plat geval het. Per ongeluk. Nadat hy sy mater skrik gemaak het en toe val hy die tent pale plat en die tent collapse op hulle en die bure het hulle kom red. Nou drink hulle maar net en hoop om môre ʼn vissie te vang… miskien.

En net daar besluit ek dat ek liewers nie meer vrae moet vrae nie, dit kan net swarigheid vir OMR inhou. Hy sal dalk permanent langs die dam moet gaan bly, visse of te not

Leave a Reply