Op Pad…

Op pad

Lieze Loots

Voel dit nie soms ook vir jou of jy heeltyd wag nie? Wag vir die tyd om verby te gaan… Wag vir die naweek… Wag vir die vakansie… Wag vir gesond word…. Wag vir herstel van ‘n seer gebroke hart… Wag vir ‘n beter finansiële posisie… Wag vir grootword… Wag vir beter verhoudings… Wag vir ‘n tydjie van rus… Wag vir gebede om verhoor te word… Wag vir damme om vol te word… Wag vir koeler weer… Wag vir warmer weer…

En dan so saam met die wag-vir… gaan die tyd ook maar net verby… En dan voel dit dalk of jy bietjies-bietjies langs die pad gemis het…  En veral gemis het dat God ook gewag het… Gewag het om genade oor jou uit te stort… Gewag het om jou te koester en te bederf… Gewag het om al sy seëninge oor jou te laat reën… Want ten spyte van ons wag… “Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm…“ Jes 30:18

En soos wat die oorvol-wolke vandag net aanhou oorspoel en aanhou gee, moet ons maar net gereed staan… met oop-bakhande, oop-uitgestrekte arms… gereed om te ontvang… Wagtend-gereed om emmers vol genade te ontvang. Mildelike en oorvloediglike uitstorting van gee en vergewe. Van vryword en vrede. Van geluk en guns. Van verrassings en  grootheid en gawes. En as jy dan lank genoeg staan en wag in die ontvang van Bo… wag mét die Een wat alles in plek hou,  sal jy voel hoe jou siel deurdrenk en opgevul en versterk word… en is jy gereed om te wees en uit te deel soos wat Hy beplan het.

Leave a Reply