Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Toe ons kinders nog klein was,  het ons geglo om vir ons kinders troeteldiere te gee, hulle sal leer van verantwoordelikheid. Yeah, right.

Nou, ons oudste wou ʼn kat gehad het. Well, eintlik ʼn jagkat soos die in die diere boek. Die een met kolle en geel wol. Ons kon op daardie stadium nie ʼn ‘jagkat’ bekostig nie en sou die bure se stoute bliksempies vir die jagkat moes voer. En dit sou op sigself probleme veroorsaak het. Polisie, tronk, hofsake, weeshuis… Daardie tipe van probleme.

Ons het mooi verduidelik dat daardie tipe katte nie mak word nie en het ʼn gewone huiskat aanbeveel. Na lang trane oor ʼn geel jagkat, het ʼn swart huiskat haar pad in die huis in gevind. En ons oudste was tevrede met die huiskat wat lewendige rotte en muise huis toe gebring het. Tot groot vermaak van die kinders oor hul gillende pa wat spring vir die muise…

Nou, die tweede een se versoek was minder maklik. Net ʼn wolmuis asseblief. ʼn Chocolate en cream wolmuis. Nou ek moet sê, hier het ek en OMR klei getrap. Op het einde laaste het ons nou maar vir nommer twee pet shop toe gevat met die hoop dat daar ʼn wolmuis sal wees wat ons kan koop sonder om die bank te moet beroof. Ons het deur die rakke gestap en nommer twee het gesoek.

Nou kyk, as jong ouers het dit soms maar moeilik gegaan om die verskil tussen opgewonde en vreesbevange gille te onderskei. Wat nommer twee uit die een hoek van die pet shop gelos het. Eers het ons gedink dat die moerse luislang wat daar in ʼn glaskas gelê het, haar gevang het. en toe die gille nie ophou nie, toe hoop ons eintlik dat dit die geval mag wees…

Ewenwel, uiteindelik kry ons haar in ʼn uiterste uithoek, by hokke wat op die grond staan. Met ʼn special bordjie daarby: “Buy one, get one free!” “Wolmuise!” gil nommer twee en spring op en af. Hamster! roep ek en OMR gelyk uit. So groot was ons vreugde dat ons uiteindelik iets kon reg kry dat ons maar die special gekoop het. Chocolate en cream hamsters.

Terug by die huis het ons mooi verduidelik oor die versorging van die diere. Dat dit hulle werk was en nie myne nie. Week een het sonder enige probleme afgeloop. Week twee en drie met probleme. Week vier en ek besef dat as ek nie ingryp nie, die arme goed gaan vrek. Nie die oudste se kat nie, let wel. Die is vet gevoer op ertjies, pampoen en spinasie. Alles dinge wat die oudste verklaar is die kat se ‘geliefste’ kossies en daarom kan hy dit nie self eet nie. Nee, nommer twee se wolmuise was die probleem.

Nou ja, ek versorg maar toe die wolmuise. Een oggend kom ek by die hok en hier lê al twee stokstyf. Ek hardloop om ʼn boksie te kry om hulle in te sit terwyl my mind oortyd werk oor of die pet shop nog specials het. OMR sit toe sy voet neer. “Nee, nommer twee moet leer van dood.” Ek sit blommetjies om die dooie hamsters in die hoop dat dit die tranedal gaan minder maak. Gee vir OMR die boksie en sê toe, jy wil mos. Ewe gedwee vat hy die boksie en soek vir nommer twee. Berei haar voor op die skok deur ʼn lang speech. Sy’t net gesit en luister, sonder enige vrae of kommentaar…

Naderhand haal hy toe maar die boksie se deksel af en maak hom gereed vir trane en snikke. Erg verontwaardig vat sy die een aan die nekvel vas en drop dit sonder seremonie terug in die boksie in. Met hande op die heupe vra sy: “En wanneer kry ek ʼn nuwe een?”

Ja wat. Geen kommentaar…

Leave a Reply