Die stoute katte

Entertainment

Michele du Plessis

 

In Ouma se huis bly drie stoute katte.

Maar, Ouma noem hulle haar skatte.

Ek sal jou vertel hoekom Ouma nie skel

En hul stoutigheid haar nie kwel.

Ouma is oud en die katte is stout

Maar hul oulikheid is hul behoud.

En daar waar Ouma werk en woel

Speel die katte om haar stoel.

 

Soms speel hulle in die kombuis;

Laat potte val met ʼn groot gedruis.

Klim op die rak en pampoen

Spring dan af om Ouma te soen.

Partykeer is hulle op die klavier

Dan sien jy hoe vlieg die papier.

Spring rond op die klawers en trompet

En slaap dan soet op Ouma se bed.

Soms gooi hulle die blomme van die rak

Of hang aan ʼn boom se tak;

Of lê in die son en slaap

Of sit op ʼn stoel en gaap.

Dek Ouma dalk die tafel,

Spring een en steel ʼn jafel.

Soms breek hulle glase en goed

Waarvoor hulle glad nie boet.

Hulle slaap op die vensterbank

As die skadu’s strek so lank.

Dan roep Ouma haar skatte,

Maar eintlik is hulle net katte.

 

Pla daar dalk ʼn muis in Ouma se huis

Sal die katte hom jag sonder gedruis;

Ouma bederf hulle dan met room

Selfs al dink hulle die bank is ʼn boom.

Maar saans as ek moet gaan slaap

Sal die katte ook stadig gaap,

Dan soen ons Ouma sag

Want more is nog ʼn dag.

Lê ek in my bedjie opgekrul,

Tussen ʼn katte spul

Dan weet ek hoekom hierdie katte

Genoem word Ouma se skatte.

Leave a Reply