Books & Authors

Die stoute hasie

Die stoute hasie

Michele du Plessis

Onder in die tuin, langs die boer se groentetuin, het ʼn familie hasies gewoon. Pappa haas en mamma haas en twee boeties en een sussie. Die boer het vir hulle ʼn gemaklike huisie gebou om in te bly en het elke dag vir hulle baie groente gegee om tee eet. Omdat die boer vir hulle baie groente gegee het, het die hasies uit die boer se groentetuin gebly en nie aan al die groente geknibbel nie.

Elke dag het pappa haas veldkos vir sy familie gaan soek en dit huis toe gebring, want die klein hasies het vinnig groot geword en was altyd honger. Mamma haas het die kinders by hulle huisie opgepas en seker gemaak dat hulle nie in die boer se tuin ingaan nie. Die twee boetie hasies was baie soet en het na hulle mamma geluister. Maar, o, wêreld, sussie hasie was vreeslik nuuskierig en baie ondeund.

As mamma haas gesê het: “Moenie aan daardie blare eet nie,” moes sussie haas net aan dit gaan eet.   So het sy baie keer pyn op haar magie gehad want sy wou nie luister nie. Arme mamma haas het haar pootjies vol gehad en was partykeer so moeg nadat sy agter sussie hasie moes aanhardloop.

Eendag het mamma hasie doodmoeg op die gras gesit en sy het aan die slaap geraak. Bietjie later toe sy wakker skrik, was die twee boetie hasies by haar, maar die stoute sussie hasie was net weg! Mamma en die twee boeties het orals gesoek en mamma hasie was bang dat ʼn wilde dier dalk vir sussie gevang het. Mamma hasie was in trane toe pappa hasie later by die huis aankom.

‘Ag, wat gaan ons tog doen?” het sy gesnik. Pappa hasie was self baie bekommerd oor sy dogtertjie. Die hasies het nog in ʼn bondeltjie gesit en huil, toe die boer daar aankom. Met sussie hasie in sy hande. “Hierdie klein hasie was baie stout en het aan my groente geëet. Ongelukkig vir haar het ʼn emmer bo-op haar geval en sy kon nie uitkom nie. Maar hier is sy. Moenie dat sy weer in die groentetuin speel nie,” het die boer kwaai gesê en vir sussie hasie saggies op die grond neergesit.

Sy het dadelik na haar mamma toe gehardloop. Sy was baie jammer oordat sy nie geluister het nie. Dit was baie, baie donker onder die emmer gewees en sy was baie bang. Sy het haar mamma en pappa belowe dat sy van nou af baie soet sal wees en altyd luister as hulle praat. Omdat sy haar les geleer het, was sussie hasie van daardie dag af stroopsoet gewees en het nooit weer in die boer se groentetuin gaan speel nie.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *