Op Pad…

Op pad

Lieze Loots

Daar is ‘n drukkende bedompigheid in die lug wat opbou… en opbou… aanhou… en die reën amper uitnooi… Ons kan dit voel kom… die storm. Alles gereed… Grond en gras wat dorstig en angstig wag op lafenis. Wolke wat hul donker donder-grys kleure wys.  Die reuk van reën in die lug nog voor dit al geval het. Weerligdanse teen die berge bevestig dit wat kom… Alles om ons is gereed. Voorberei. Wagtend en ontvanklik.  En dan die stortvloed. Die hemel wat oopmaak en seën wat uitgestort word oor almal wat dit wil hê.

Ek staan in die storm en sien vir God raak. Nie ‘n  woedende God wat met blitsende strale straf en slaan en uitskel nie. Ek sien my Vader wat in ‘n storm ál sy genade en seën oor my kom uitstort. Ek sien my Vader wat voor die storm alles gereed gemaak het. Alles voorberei het. Ek sien die magdom van gebede wat soos donderwolke saampak en opbou… gereed om verhoor te word. Gereed om vrygestel te word. Gebede wat dra en beskerm en bly omvou. Gebede wat harte en gedagtes help voorberei. Gebede wat dan soos stormreën net neersak… natmaak… alles deurdrenk… alles verander… en nie anders kan as om lewegewend ons diepste wese te vul en te voed nie.

En soos wat elke druppel val, word God se genade en getrouheid… sy liefde… sy sorg… sy weét van elke deel van mý… net weer en weer bevestig… En my hart is vol van dankbaarheid vir hope saampak-donderwolk-gebede… Wat maak dat die moeilik maklik en moeiteloos word. En wat maak dat die storms seën word…

Leave a Reply