Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Lank gelede, toe die wêreld nog woes en leeg was, en dorpe afstande van mekaar af was, en mense minder wantrouig was en nie bang was hulle word vermoor in hulle beddens nie, was onbeplande vakansies nog moontlik gewees.

Vandag moet mens die alwetende stem op die dashboard raadpleeg oor waarnatoe nou. En dan vertel hierdie beterweterige female jou draai links en draai regs en dan is jy in jou moer in verdwaal want die paaie het intussen verander. Nou, so ʼn ruk terug het ek en Old Man River op so ʼn onbeplande vakansie gegaan. Hy’t gesê ons slaap waar ons plek kry en kyk wat ons wil kyk. Natuurlik moet die beterweterige stem op die dashboard ook saam want sy weet mos alles…

Anyway, dag een, twee en drie het wonderbaarlik flatervry verloop. Dag vier toe breek alle hel los. Sien, ons het die oggend rustig opgepak by hierdie self-catering plekkie aan die Weskus en sommer meat pies gekoop vir ontbyt en ons is daar weg. Al met die kus langs. Hier by een uur word ons toe nou honger en ons bevind ons in hierdie krummel op die gps se skermpie. Na ʼn gesoek vind ons uiteindelik ʼn kafee wat eintlik net ʼn ‘keffie’ is. Heelagter in die plekkie was ʼn take away en die fresh fish lyk tog te lekker. Ons koop en loop en gaan sit op die strand en eet.

Val weer in die pad en ons is daar weg. Op aanwysings van die gps monster. Eers slaat ons ʼn grondpad en ek reken by myself dat daar in die laaste 20 jaar geen voertuig op gery het nie. Maar ek sê niks, want OMR en die gps communicate mos. Volgende is ons oor ʼn brug wat toegegroei is en daar beland ons in ʼn droë rivierloop. Manmoedig foeter ons voort en dit word donkerder en donkerder. Op het einde laaste sien ons ʼn liggie in die verte brand en ons raak skoon opgewonde daaroor.

OMR dink slaapplek, ek dink sjebeen, yeah! Nou kyk, toe ons hierdie afgeleë “dorp” bereik, toe sak my moed in my skoene. Ek is honger en dors en soek ʼn toilet en miskien ʼn slaapplek. O genade, hierdie plek was soos iets uit ʼn horror movie. Hier en daar dwaal ʼn siel rond, party skeef, party kruppel en ander, volgens my, besete. En ek dink, wat opsigself gevaarlik is, dat inbreeding hier hooggety vier of dat die goewerment eksperimente op hierdie gedaantes uitgevoer het.

OMR vra die gps waar ons is. Sy weet @#$%. My oë soek naarstiglik na ʼn sjebeen/kroeg/kerk/veilige hawe. Ek moedig OMR aan om te ry, want hierdie Zombie-ville gee my die creeps en ek is rêrig te nugter hiervoor. Na wat soos ure gevoel het, is ons daaruit, vind ʼn pad na die beskawing toe, kry ʼn dorp met ʼn kroeg en ek val van opgewondenheid by die kar uit in my strewe om by die kroeg te kan ingaan.

Man, ons het net lekker gesit en ontspan met yskoue bier, toe OMR mos nou besluit om vrae te vra oor die vervloekste Zombie-ville. En skielik is die kroeg stil en die barman speel dom en ek voel hoe my rug styf word. OMR tel niks op nie en gesels lustig voort. Naderhand skop ek hom en hy bly doodstil…

Naderhand toe kom hierdie barman uit sy beswyming uit, kyk OMR vas in die oë en sê: “Daai is nie ʼn plek nie. Daai, ek sê hom se niks nie.” Ja well, ek sê hom ook se niks nie….

Leave a Reply