Op Pad…

Op pad

Lieze Loots

Die stilte na ‘n storm… Die rustige gaan lê van die wind na ‘n wilde warrelwind-deurmekaar waai… Warm verwelkom van jou huis na ‘n woeste dag… Die kalmte en vrede in jou hart, nadat vergifnis gegee en ontvang is… seer woorde wat verdwyn… en onstuimige  harte wat bedaar…

Hoe genadig dat ons dít kan wéét… die belofte van stilte. Van rus en vrede. Beloftes van kalmte. En van Goddelike ingryping om ons storms te laat bedaar. Van die seker wete van… “selfs al gaan ek deur… “ dalk donker dieptes… of onoorkombare berge. Woestyn-droog-seisoene. Saam met Daniël in die leeukuil-tye. Of orkaan-sterkte storms… met wilde watergolwe wat wil verswelg en verdrink en verwurg… Veral dáár is my God. Sáám in die middel van my storm. Saam met my op pad tssen die leeus in, of oor die berg… vooruitgegaan, met kláár, stewige brûe oor die afgronde, en rotse wat weggerol word. Met Sy lig om die pad aan te wys… Sy stem om te bemoedig… Met Sy hande om te omvou en te beskerm. Sy skadu om in te rus. Sy voorsiening om in te verkwik. Sy liefdes-hart om my hart te bly voed. Sy wese om my te dra. Sy Gees om my krag te gee as ek swak voel. Sy teenwoordigheid om my moed te gee vir wat voorlê…

En ek wéét met ‘n weet-wat-ek-weet-sekerheid… my storm sal bedaar. My pad sal gelyk word. My berge sal plat word…. Want… ”God is daar; en die stad sal nie wankel nie… al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, en al druis en skuim die waters van die see… God is vir ons ‘n toevlug en beskerming…” (Ps 46)  En ek sal nie bang wees nie.

Leave a Reply