Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek loop mos toe nou die dag ʼn vrou raak in ʼn Coffee shop, en sy lyk vreeslik bekend. En ek staan en kyk, en skud my kop, en kyk weer. Ja, wragtig, dit moet net sy wees. Ek kon sweer ons was saam op skool gewees. Soos ek nader stap, probeer ek ʼn naam by die gesig sit, maar dit ontgaan my.

By die vrou se tafeltjie gekom, sien jy die rook by my ore uittrek soos ek dink. Anyhow, reken ek, vra maar net wat haar naam is. Met die intrapslag vra ek haar in watter hoërskool sy was, want sy lyk so bekend. “Excusez-moi,” deel sy my hooghartig mee. Vir my klink dit na Fanakalo. “Eksqueezy mhwo?” probeer ek uit-figure wat sy sê. “Parlez-vous français?” vra sy volgende. “Pêreltjiewoes fransoois?” dink ek. Nee, wag hier is nou groot fout. Die stem behoort aan ou Mattie Moerdyk, – wie kon nou ooit daai neulstemmetjie verwar met iemand anderste- die gesig ook, maar waar kom die pêreltjiewoes fransoois vandaan?

“Nee, wag vrou,” keer ek haar. “Is jy nie ou Mattie Moerdyk nie?” vra ek. Haar oë rek en sy vra hooghartig: “Mwatty Mwhoerdaak?” Nou kyk, ek kan sien as iemand hulle dom hou. Vererg roep ek een van die kelnerinne. “Praat jy dalk hierdie pêreltjiewoes fransoois?” vra ek die eerste een. “Nee, antie, ek kom vani Vrystaat af. Maar daai een daar sukkel met Ingels en dit klink baie soos die antie as sy oor die phone praat. Ek roep haar gou,” help die vriendelike Vrystatertjie my. En daar laat loop sy met ʼn fluit wat beeste uit die veld uit lok.

Laggend kom die ander kelnerin aangestap. Weereens vra ek of sy hierdie Fransoois kan praat. Skielik gaan daar ʼn lig op in haar oë en sy lyk skoon opgewonde. “Then ask this women if she is Mattie Moerdyk, please.” En daar trek hierdie mooie meisiekind los en sy Fransoois diekant toe en dan daai kant toe. En skielik slaat hierdie vrou wie ek sê is ou Matty, ʼn blank. Het jou, katvis, dink ek so by myself. “No, madame, she no speak French. Must be somebody else,” en daar gaan die kelnerin.

Ek staan nog daar by die tafeltjie om iets te sê, toe hierdie mooie boerseun by die deur ingestap kom. Reguit op hierdie ‘Nie-Matty’ Matty af. “Hallo Ma,” groet hy vrolik en klapsoen die vrou op haar wang. “Nice om Ma Matty hier te sien! Sit Tannie, en drink koffie saam met ons,” nooi die seun vriendelik. Ek lag so dat die jongeling my op ʼn stoel help sit. “Ja, né, Ou Matty. Dit is toe al die tyd jy. Nou sê my gou, hoekom die aansitterye? Is jy nou te grand vir ons gewone plebs?” En daar begin sy bietjie lewe kry. Ons verwyder die ongemaklikheid tussen ons en begrawe haar upstairs-geid onder wortelkoek en koffie.

Nou kyk, ek sal nie Anna wees as ek nie die vraag vra wat my mangels brand nie. “Nou, Matty, sê nou eers vir my. Is die aksent nou Paree in Frankryk, of jou eie Parys, Vrystaat, maaksel? Toe, vertel, my gat brand om te weet!” En dis hier waar sy weer die laaistok insluk… Ag shame, ek dink ek het ʼn budding vriendskap vermoor…

Leave a Reply