Op pad…

Op pad

Lieze Loots

 

‘n Oomblik se omdraai… terugkyk…  terugblik op my pad… laat my net verwonderd-verstom…  sprakeloos-stil, met trane wat onwillekeurig en ongevraagd opdam… En soveel dankbaarheid stroom jubelend juigend saam oor my wange…

Want God ís, en bly getrou… onveranderbaar… onwankelbaar… Hy bly dieselfde in gister… in vandag en in môre… en in elke asem tussenin. En saam met Hom, sy Woord, sy Woorde… Beloftes wat vas staan. Gemessel in vastigheid van vir-altyd. Beloftes wat trots en hoog en ewig uittroon… Waarheid wat genadiglik-konstant soos elke nuwe dag refrein… oor en oor herhaal… van liefde en trou… Van wete van warmte en wonder… Van deernis en sorg…  Wete van beskerming… Engelskare wat laer trek… óral om… Wete van voorsiening en vooruitgaan.  En van die sekerheid van ‘n vandag én ‘n more  van  geluk en genade.

Want ek kyk na God-Beloftes van 3 jaar gelede… In die oomblik van die seerste seer en laagste laag… En ek sien nog steeds Waarheid. Ek sien nog steeds Rots-Vastigheid. Ek sien nog steeds Genoeg… Want God verander nie. Sy refrein blý dieselfde…

“Ek sit nog steeds in die son van U beloftes

In die strale van U genade

In die warmte van U nabyheid

In die lig van U troos

Ek sit nog steeds by U

Raakgesien en bemin…”

Onverstaanbaar. Konstant en onveranderend. Ewigdurend en onveranderbaar. Liefde en getrouheid… nog steeds onwankelbaar en vás. Waarheid.

En veral dan ook die vaste wete…. van ‘n seker en vas toekomsblik… Lig en son nog stééds, en áltyd op my pad… God wat reeds weet… wat reeds IS… En dan kan ek maar net wéés… en saam met elke uitasem juig dit saam… Toekoms kom!

Leave a Reply