Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek het nog nooit hierdie ding van titels verstaan nie. Councillor dit en mayor dat en nog meer in der voege. Nog minder verstaan ek hoe die dokter se vrou mevrou dokter kan wees nie. Sy’t mos nou nie gaan leer vir ʼn dokter nie. Volgens my is dit blatante uitbuiting van ʼn argaïese sisteem waar Jan en Sannie Alleman met verwondering gestaar het na enige iemand wat nie meelsak onderbroeke en bloomers gedra het nie. Ek reken die tyd van titels is lank reeds verby. Net soos bywoners iets van de verlede is.

Daar is wel titels wat ek gebruik. Soos dokter, of dominee of kaptein. Suster in die hospitaal is ook nog okay. Maar mens moet iewers die streep trek. Soos hierdie pasella grade wat die universiteite vir struggle artieste gee. Net om askies te vra vir die verlede. En dan is daar die titel president. Van die land. Ons vir jou Suid Afrika.

Nou kyk, myns insiens het Zuma die Puma se sell-by-date het verval. Maar nee, hy klou soos klitsgras aan ʼn wolkombers aan daardie titel. Seker bang die gravy train ontspoor voor dit by S’kandlas kom. Nou moet die parlement hom glo fire want hy sal nie self loop nie. Hierdie hele episode is soos die movie Titanic. Net die skip se naam is GiganticProblems. Die ysberg wat hierdie skippie getref het kan Guptamoutain genoem word. En nou sink hierdie skippie eintlik te stadig en daar is nie eens een reddingsbootjie nie. Haai shame…

Tuis op droë grond toi-toi die makkers. Een klomp skreeu voertsek en die ander klomp probeer hulle stilmaak. En almal is so confused oor wie waar hoort en dan gil ou Juliaas nog van die kant af ook. So stuur ons af op totale anargie.

Old Man River vra my vandag wanneer laas ek nuus geluister het. “2016,” antwoord ek hom. Hy kyk my net met ʼn geskokte uitdrukking aan. “Wat?” vra ek met opgetrekte skouers. “Die hele land sal vergaan en jy sal salig onbewus wees van die feit. Stel jy dan nie belang nie?” wil hy weet. “Nee. Emfaties nee,” vertel ek hom.

Sien, volgens my werk dit so. Ek weet genoeg om my eie mind op te maak en te veel om ʼn suksesvolle politikus te kan wees. En ek lieg nie gladweg genoeg nie. My inherente eerlikheid weerhou my daarvan om bribes te vat of BMW’s. Daarby is ons huis reeds te veel werk, ek soek nie ʼn groter plek nie. So daar is een minder ding waarmee ek verlei kan word. Gatkruip is ook nie een van my sterkpunte nie. Kan my nie indink om te sê: “Oh madam mayor, you look so pretty today!” want ons kon ʼn jong hongersnood gekeer het met die geld wat sy vir haar outfit betaal het.

So ja, ek wat Anna is, is moerig. Kwaad vir al die corruption van die officials’ en government people, kwaad vir die honger mense se part en kwaad omdat daar nie water in die Wes Kaap is nie. Kwaad oor daar have’s is en have nots. Soos Old Man River sê: ek het my innerlike rebel ontdek…

Al raad wat ek nou het vir myself is wyn vir die pyn. Liters daarvan…

Leave a Reply