Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Haai weet jy, ek word mos nou die dag uitgenooi na hierdie dames oggend toe. Of ʼn dames tee, wat jy dit ook al wil noem. Nou ek sal dit nie eintlik uitnooi nie, want jy moet betaal vir jou ticket en dan kry jy nou tee en snacks and what not. Nou hierdie kaartjie sê formele oggend drag en ek het nie ʼn idee wat dit beteken nie. Miskien grand pajamas? Anyway, ek het toe maar die vrou by die boutique in Nelspruit gevra en na vele rokke aanpas, is ek daar weg met skoene, rok en ʼn leë kredietkaart.

Die oggend vroeg begin ek opgetof en poeier en paint. Ag, nie lank nie en lyk ek heel ordentlik.  Nou daar by die saal opgedaag sien ek net lang slap karre en ou vrouens wat op high poffaaitjies rond sukkel. Met ʼn iesegrimmige glimlag stop en my ou karretjie sommer so tussen twee grand karre en loop kop omhoog by die trappe af.

Nou, naderhand is die saal vol en ek kry amper nie asem tussen al die parfuum walms deur nie. Maar ek sit want ek het goeie geld betaal om daar te wees. Die affêre begin met mevrou dominee wat open met gebed, daarna gesels mevrou dokter oor gesondheid sake vir vroue, mevrou skoolhoof se vrou lewer ʼn roerende gedig wat vele na sakdoekies laat gryp. Teen die tyd is ek so honger ek voel om saam te snik oor my honger pyne. Genadiglik begin die actual gasspreker te praat en vertel ons van die rede waarvoor sy nou fondse insamel.

Ek skrik met ʼn skok wakker nadat ek myself wakker gesnork het. Sonder om te blik of te bloos, smile and wave ek. Mevrou dominee rol haar oë en tel haar hande melodramaties op. Ek dink so by myself: rol maar jou oë, mevrou dominee, miskien vind jy ʼn brein daar agter… Anyway, op het einde laaste het hulle klaar gepraat en ons kan in ʼn ry gaan staan vir kos.

Nou soos die ry aanbeweeg gesels die dames met mekaar. Ek luister maar net, want miesies dominee staan voor my en kort-kort krap sy met een benerige vinger in haar kapsel. Nou ek wat Anna is, staan ongemerk nader en inspekteer haar kapsel noukeurig. Ja nee, kyk, daar sien ek die klein goggatjies. Ek wag toe nou maar my beurt af vir kos en gaan sit weer. Ek krap in my handsak rond vir ʼn pen en skryf sommer so op my servet. Geduldig wag ek dat almal nou weer aan die hooftafel sit en stap met vasberade treë soontoe.

Heel vererg kyk mevrou dominee op toe ek reg voor haar gaan staan. “Jy kan wag tot later om met ons gasspreker te praat,” deel sy my luidkeels toe. Net sodat almal mooi kan hoor. “Ag nee wat,” sê ek, “ek wil eintlik net vir jou hierdie servet gee. Sien ek het die naam van ʼn goeie sjampoe daarop geskryf.” “Ek gebruik reeds net die beste op die mark,” deel sy my mee. “Nee wat, suster, jou sjampoe gaan nie werk vir jou probleempies nie. Sien, hierdie is spesiaal gemaak vir luise. En jy, miesies dominee, het ʼn erge luis probleem op jou kop.” Alles  gesê in presies dieselfde luidrugtige stemtoon.

Nou, haai shame, miesies dominee het my amper omgehol in haar haas om die saal te verlaat. So rooi soos ʼn strawberry. En die res van die gaste? Sprakeloos, susters, sprakeloos…

Leave a Reply