Afrikaners is plesierig…

News, Social

Michele du Plessis

Afrikaners is plesierig, dit kan jy my glo, hulle hou van partytjies, en dan maak hulle so…

Boere disko. Of so is Volkspele neerhalend genoem net nadat disko die in ding geword het. Tog, baie Afrikaners seuns en dogters, mans en vroue het hulself gate uit geniet met Volkspele.

Soos ander volke regoor die wêreld hul tradisionele danse het, het tradisionele danse in Suid Afrika onder die Afrikaner volk ook ontstaan. In die 19de eeu het seuns en dogters op informele manier by sosiale byeenkomste volkspele gespeel. Daar was geen poging om hierdie sg. “piekniekspeletjies” te organiseer nie. Die jong onderwyser, Samuel  Henri  Pellissier het in 1912 Swede saam met ʼn J M Meiring besoek met die idee om hulle verder te bekwaam in hout- en skrynwerk. Daar het hulle ander jongmense van verskillende lande ontmoet en die jongmense was gewoonlik in hul eie kleurvolle volksdrag geklee en het hulle hul volksdanse beoefen. Dr Pellissier het besef dat ander volke hul danse en tradisionele drag trots as ʼn kultuurbesitting beskou. Volkspele in Suid Afrika is egter op die agtergrond gehou en slegs by boere byeenkomste op die platteland gedans

In 1936/37 het Mej. A.M. Köhler, verbonde aan die Normaalopleidingskolledge op Bloemfontein, ‘n beperkte aantal volkspele as deel van die liggaamsoefeningkursus beoefen.  Die viering van die Eeufeesjaar in 1938 het ‘n nasionale belangstelling in die nasionale volksdrag, volksange en volkspele aangewakker. Die uitgebreide belangstelling in volkspele het daartoe gelei dat die eerste groot volkspelekursus in 1940 in Bloemfontein aangebied is.

In die komende jare het die gewildheid van volkspele gegroei sodat 2000 volkspelers in 1949 ‘n massavertoning by die Voortrekkermonument gelewer het en in 1952 tydens die Van Riebeeckfees in Kaapstad het drieduisend volkspelers in Kaapstad opgetree; Op 17 April 1953 het ‘n honderdtal volkspelers met die Carnarvon Castle na Europa vertrek en baie geslaagde reis is deur Nederland, België, Wes-Duitsland, Denemarke, Swede en Engeland afgelê.

Eers draai die ou vroutjie, en dan draai haar ou man, en hy vat haar om haar lyfie en dan draai hulle saam…  Die ontwerp van die rok van die niggie is gebaseer op Voortrekkerdrag van om en by 1836. Die bo-rok was tradisioneel van tafsy gemaak, maar latere jare is makliker wasbare en koeler materiaal gebruik. Die halsdoek, afgewerk met ʼn fyn kantjie, ʼn wye onderrok en ʼn kappie het deel uitgemaak van die uitrusting. Tradisioneel word die neef se broek van 100% wol gemaak en is donkerblou, -groen, -bruin of –swart. Die dra van kruisbande is aanbeveel, en ʼn eenkleurige onderbaadjie saam met ʼn spierwit hemp is gedra. Die nekdoek was dieselfde kleur as die niggie se rok en ʼn nekdoekring, gesny uit inheemse hout, horing of been is daarmee saam gedra.

Volkspele het nog lank nie uitgesterf nie en dit is baie duidelik dat die Afrikaanse Volksang en Volkspele Beweging dit ook nie gaan toelaat nie.  Goeienag, my ou vroutjie, goeienag, my ou man! Oor ‘n week ‘n partytjie, en dan draai ons weer saam…

Leave a Reply