OP pad…

Op pad

Lieze Loots

En net so… soos die vroeë mis maar net verdwyn voor die omhelsing van die son… en soos die een dag maar oorspoel in die volgende… só het die vorige jaar stil-stil maar net plek gemaak… en het ‘n nuwe jaar voor ons deur kom lê… Om plek te maak… Vir nuwe moontlikhede. Vir nuwe kanse. Vir nuwe geleenthede en nuwe probeer. En word ons so saam met die varsheid van somerreën uitgenooi om uit te sien na dít wat wag om die draai… “ Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie?” Jes 43:18-19  Verwagting van nuwe kanse en nuwe begin. Omhelsing van elke nuwe mooi oomblik… Uitsien na die neersit van die verlede tyd… en voluit leef in die teenwoordige tyd…

Al is daar dalk ook nuwe seer… en nuwe berge wat ons moet oor en nuwe klowe wat ons moet deur… En al is ons paaie vol klippe en dorings en dit voel of daar geen voet-vastrapplek is nie… en gly-gly vorentoe ál manier is… Juis dán wéét ek… “ Ek gaan ‘n pad maak deur die wildernis vir my volk om huis toe te kom. Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!” Jes 43:19. Juis dán weet ek… God se getrouheid en liefde lig my op. Juis dan weet ek Sy genade is vir my genoeg… Juis dan voel ek hoe ek onder Sy vlerke skuil. En juis dan kan ek bly vlieg met arendsvlerke…

Leave a Reply