Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Kyk, as jy my nou wil goed kwaad hê, moet jy vir my sê bak koek of tert of iets in der voege. Of pannekoek. Maar nou die aand sit Old Man River so in die kombuis en vertel vir my hoe lus hy nou vir ʼn koeksuster is. Ek gee raad waar hy kan gaan soek vir koeksusters, maar dit is 9 uur in die aand en waar gaan hy nou koeksusters kry? Alles sal of toe wees of die koeksusters sal oud wees. En daar lyk hy toe nou sommer hartseer.

Ek, Anna, besluit mos toe nou op daardie oomblik ek sal vir die ou man nou maar koeksusters bak die volgende dag. Dit kan mos nou nie so moeilik wees nie, kan dit? Ewenwel, vroeg die volgende oggend soek ek naarstiglik deur my resepteboeke na ʼn koeksuster resep wat maklik lyk. En wonder bo wonder, ek het al die goed wat nodig is daarvoor.

Eers het ek die stroop gemaak, dit laat afkoel en sommer in die fridge gedruk vir baie koud. Soos die resep my verduidelik. Okay, die stroop het so bietjie gebrand, maar ek het gereken dit is heel reg. Volgende het ek die deeg gemaak. Presies net soos die resep sê. Ek het die deeg nou maar mee gedoen soos hulle my wys hoe om die vervloekste goed te vleg. Naderhand is alles vol meel. Ek ook soos ek stoei met die koeksusters…

Nou ja, na ure se geswoeg het ek 24 mooi-(erige) gevlegte deeg bondels daar gehad. Ek maak die olie warm, sit die yskoue stroop daar neer en begin met gooi in die olie, haal vinnig uit en druk onder die stroop in. Makliker gesê as gedoen. Eerste twee brand in die olie, maar ek veg voort en druk hulle in die koue stroop in. Sommer so met die hand. Vroumoedig bak ek verder. Verbrand en stroop. Aanhoudend. Elke liewe oppervlakte in die kombuis is taai. Selfs die dak het ook stroop spatsels. Ek sit aan die vloer en lepels vas en daar is nie meer ʼn skoon utensil in die laai nie.

Uiteindelik is die goed klaar. Gaar en verbrand, dank die Vader, soos my pa altyd gesê het oor my ma se kos. Die bestroopte, gebrande koeksusters lê verbouereerd op die taai bord en kry hulself jammer. Ek kry myself jammer en besluit ek drink nou wyn. As ek aan die boks en die glas vasplak, des te beter…

Daar het OMR my gekry, vasgeplak aan die tafel en vloer. Erg bekommerd het hy die kombuis  ingestap en gesukkel om sy skoene van die vloer af los te kry. Maar toe hy die verbrande, verbouereerd koeksusters sien, het hy geweet wat ek, Anna probeer doen het. “Anna, gaan klim in die bad. Ek sal die kombuis probeer skoon kry,” het hy beveel en ek is ewe gedwee bad toe.

Later daardie aand, nadat hy die kombuis skoon gekry het en dapper aan ʼn koeksuster geproe het, het hy gesê dit proe nie sleg nie, maar ek moet liewers volgende keer by die tuisnywerheid gaan koop. Heel diplomaties. Wat nie vir lank gehou het nie… “Anna, as jy nou weer van daardie stroop kan maak, gaan ons miljoene verdien met dit. Ek het nog nooit in my lewe sulke wonderlike gom gesien nie…” Nou wat kan ek daaroor sê?

Leave a Reply