Kersfees is vir kinders

Social

Clintin Brummer

Gedurende Desember het Helpende Hand ʼn Kersfees partytjie vir twaalf kinders gehou by My Way Vakansieoord in Sabie. Helpende Hand voorsitster, Marie Botha, het gesê dat met behulp van borge en HH vrywilligers, dit moontlik was om Kersfees vreugde vir die kinders te bring.

Daar was veelvuldige geskenke onder die Kersboom en die gejubel van die kinders was van ver af te hoor. Die Helpende Hand vrywilligers, Lesna Saayman, Bertus Swanepoel, Marietjie Blackbeard en Carl Swanepoel, was vinnig van hand en het verseker dat geen item skort om die partytjie so lekker as moontlik te maak. Onder die kinders was daar ʼn opgewondenheid oor wat onder die boom gewag het.

Self Kersvader (Carl Swanepoel) het ʼn huppel in sy stappie gehad. Vanaf storietyd, waar die verhaal van Jesus se geboorte vertel is deur Ilsa Lawrie, tot die geskenke oopmaak geword het, was almal heel in hul noppies. Die dissipline onder die kinders was bewonderingswaardig, asook die nederigheid en dankbaarheid op hulle gesiggies. Elke kind het ook ʼn groot plastiek houer vol skatte, lekkergoed en ʼn vrugtesap gekry. Hierdie Kersfees partytjie het definitief aan vele ouers ʼn slapelose nag besorg as gevolg van al die eetgoed en roomys wat die kinders gekry het.

Nadat die kinders trommeldik geëet en die geskenke oopgemaak is, het Marie Botha saam met die kinders die  klimraam aangeval en die dag ten volle benut. Selfs die weer het vir eens saamgespeel. Tussen die gesels en gespeel deur was die dag besig en ʼn klinkende sukses. Hiervan sal herinneringe nog lank saam gedra word.

Baie dankie aan die borge: Isabel Thomson en Thomson Sabie, Dr Merna Cronjé en Ilsa Lawrie. Baie dankie ook aan die vrywilligers van Helpende Hand en spesiale dank aan Marie Botha.

 

Leave a Reply