Op pad

Op pad

Lieze Loots

“Hoe lieflik is U woning Here Almagtig…!“ Alles om my… die bos-ruigtes… die uitstaan-berge… sand… see… waters wat op en af wieg… die kleur-vermeninging as die son sak… en dan die sagte briesie wat pluk-pluk aan die bosse… koelte-lafenis-aanbod na ‘n dag van warm warmte… Saam met die soutsproei van branders wat keer op keer stukkend spat oor die rotse… en maar net weer, keer op keer bondels branders bymekaar maak, en wéér begin beweeg…

Alles werk sáám… die skepping in harmonie… bevestigend van genade en goedheid en guns. Beklemtonend van getrouheid en sorg. Van voortgaan en uithou. Van volharding. Aanhoudend. Ewigdurend. Weerspieëling van glorie in die goud op die water… En ek besef… dís wat ons moet wees… Weerkaatsing van God se glorie. Van Sy liefde en trou. Van Sy aanvaarding en beskerming. Spieëlbeeld van Hom wat liefhet. Uitstraal en terugkaats van dít wat ons alles ontvang het… Van die oorvloed van guns wat aan ons verleen is. Goedheid wat oor ons uitgestort is. Die genoeg-genade wat ons in staat gestel het om te kón…  te kon opstaan en aangaan, te kon dryf sonder om te sink… Genoeg genade wat voorsien dat ons nog steeds kán… loop op die water, loop op die pad voor ons. Dít wat vir ons wag om elke skewe draai, te kan geniet. Te kan glimlag oor die mooi rondom ons… Dankbaar te kan wees vir seëninge van vriende en van familie, van liefde en geluk, van kuier en bederf… en veral dankbaar te kan wees vir daardie oorweldigende oomblikke van oorwinnings wat behaal is… paaie wat geloop is…

Mag ons sáám met die goud wat op die water dryf, die glorie van God verkondig…

Leave a Reply