ʼn Outydse Kersfees

Social

Michele du Plessis

Kersfees sal nie Kersfees wees sonder die wonderlike aromas van kaneel, gemmer, tiemie, roosmaryn… die reuk van koekies wat bak, gemmerbier, gebakte aartappel met paprika en knoffel nie. Kersfees was altyd ʼn fees. Familie wat saam kuier, bak en brou. Ouma wat daarop aandring om dinge háár manier te doen want sy is immers die Ouma en ma van almal.

Dan, die manier hoe Ouma dinge gedoen het: stadig en op haar tyd. Pampoen mag nie aangejaag word nie, stadig gaar word in botter. Elke ding versigtig en op sy tyd. Soet patats wat glinster van die kaneel suiker, goudbruin lamsboud, geelrys met rosyntjies en bobotie

Soveel tradisies wat uitsterf in ons gejaagde lewe. Slaai en braaivleis is lekker, maar nie vir Krismis nie. Daarom, in hierdie uitgawe van GPS News, ʼn paar outydse resepte, soos Ouma dit gemaak het…

 

OUTYDSE SPESERYKOEKIES

425g banketmeelblom                           3 ml sout

3 ml koeksoda                                      5 ml fyn kaneel

3 ml fyn naeltjies                                   200g karamelbruinsuiker

125g botter                                           1 eier (geklits)

90 ml sjerrie of port                               5 ml lemoenskil, gerasper

Neute vir versiering

 

Sif meel, sout, koeksoda, kaneel, naeltjies en suiker saam. Vryf botter in. Voeg eier, sjerrie en skil by. Bedek deeg en laat ongeveer 1 uur lank staan. Rol deeg uit tot 3mm dikte. Druk ronde koekies uit. Druk ʼn neut in die middel van elke koekie vas. Plaas op ʼn gesmeerde bakplaat. Bak ongeveer 15 minute lank in voorverhitte oond by 200ºC.

GEMMERBIER

20 ml gemaalde gemmer

10 liter lou water

1.6 kg wit suiker

150g rosyne

10g aktiewe droë gis

10 ml kremetart

10 ml wynsteensuur

 

Voeg die gemmer by die water en suiker en roer tot die suiker opgelos is. Voeg die res van die bestanddele by. Giet die mengsel in ‘n plastiekemmer met ‘n deksel en laat dit 24 uur lank gis. Filtreer die bier daarna deur en giet die filtraat in gesteriliseerde bottels. Moenie die bottels te vol maak nie. Plaas 2 tot 3 van die rosyne in elke bottel en draai die proppe lossies vas. Laat die bier ‘n dag of twee by kamertemperatuur gis voordat dit in die koelkas bewaar word.

Leave a Reply