Matthys Roets inspireer Sabie

News, Social

D van wyk

Twintig dae: twintig vertonings in twintig verskillende dorpe.  Matthys Roets, alombekende en geliefde sanger, pak definitief niks halfhartig aan nie.

Op Vrydag, 1 Desember, het hy ʼn optrede by Ligna Lodge in Sabie gehad. ʼn Intieme groep van sowat 50 mense het gesmul aan uithaler boerekos en geluister na sy hartsmusiek.

Die dag voor sy Sabie optrede was hy by Ohrigstad se skoolsportgronde en die volgende dag was die Lydenburg optrede aan die beurt.

Die musiek van Neil Diamond, Koos du Plessis (Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan), Leonard Cohen en Piet Van Wyk de Vries het die gehoor meegevoer. Hy het die gaste trakteer op sy eie interpretasie van hierdie sangers se musiek en sy optrede was eerlik, opreg en sonder pretensies. Tog, die ware inspirasie was Matthys self – sy stem resoneer met almal, en hy het ʼn staande ovasie gekry.

Nege jaar na sy ongeluk, is hy ʼn  onafhanklike persoon wat aandring om alles self te doen.  Sy lewe het drasties verander na die ongeluk. Sy positiwiteit is aansteeklik en elkeen van die gaste het met hom gesels en saam gekuier.

Matthys het besluit om te reis en die mense van Suid-Afrika te ontmoet. Hy vertel ook dat hy ongelooflike mense ontmoet en dat hy “iets put uit die gedeelde energie, daarom ry hy na die mense toe met sy optredes.  Nie al die mense in klein dorpe het toegang tot kunstenaars nie, en daarom spandeer hy die tyd om musiek na die mense toe te bring.

Leave a Reply