Die Krismis Wurm

Books & Authors

Michele du Plessis

Diep in die denne plantasie het ʼn pragtige denneboompie gestaan. Die man aan wie die plantasie behoort het, het elke jaar ʼn denneboompie vir sy huisgesin gebring. Elke jaar het hulle die boom met liggies en lekkergoed en blink balletjies versier. Hierdie keer het die man besluit om die denneboompie uit te haal en in ʼn groot pot te plant, dan hoef hy nie elke jaar ʼn boompie af te saag nie.

Op hierdie denneboompie het ʼn wurm gewoon. Willie wurm het nie veel gehad om te eet nie, want hy het nie baie van die dennenaalde gehou nie. Soms het hy teen die boom afgeloop en van die plante wat om die boompie gegroei het, geëet.

Toe die man die boompie begin uit grawe, het die boom geskud en gewikkel en Willie wurm het vasgeklou. So is hy saam huis toe want hy het tussen die dennenaalde weg gekruip. By die huis het die man die denneboompie weer versigtig geplant en die kinders het die boom begin versier. Gou het die boompie tog te feestelik gelyk. Willie wurm het hom verkyk aan alles.

Dit was ook nie lank nie, toe Willie wurm besluit hy proe aan die lekkergoed… hy het geëet totdat hy gevoel het hy gaan oopbars. Maar dit was so lekker en so soet dat hy maar net weer verder geëet het. Willie wurm het vetter en vetter geword. Naderhand was hy so vol lekkergoed dat hy vaak geword het. Hy het maar teen die boom se stam gaan lê, diep onder die dennenaalde.

Dit was ook nie lank nie toe Willie wurm gevoel het hy moet nou vir hom ʼn kokon spin sodat hy nie afval nie. Hy het gespin en gespin aan sy kokon. Gou was hy mooi toegespin en het hy aan die slaap geraak.

Die volgende dag het die man gesien iets het aan die lekkergoed geknibbel en hy het die boom deursoek. Hy het die kokon gekry en maar net geglimlag. “So, ons het ʼn Krismis wurm as versiersel die jaar!” het hy gelag. Hy het vir sy kinders die kokon gewys en hulle vertel van die honger Krismis wurm wat later in ʼn pragtige vlinder gaan verander.

Nadat hulle Kersfees gevier het, het die man die boom uitgedra buite toe. Elke dag het hy gaan kyk of die Krismis wurm al begin uitkom. Een oggend vroeg het die wonderwerk gebeur en hy het sy kinders geroep om na die vlinder te kom kyk. Doodstil het hulle gestaan en kyk hoe die Krismis wurm sy vlinder vlerke uitsprei en weg vlieg. “En daar gaan ons Krismis wurm wat nou ʼn Krismis vlinder geword het!” het hy gelag. Al wat van die Krismis wurm oorgebly het, was die kokon wat nog aan ʼn draadjie aan die boom gehang het…

Leave a Reply