Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Kyk, Old Man River ken die interessantste mense. Soos, ag kom ons noem hom sommer Hansie. Nou die aand toe kom Hansie daar by OMR aan en die twee gesels. Hulle kuier ʼn kas bier stukkend, so saam met Akkedissie. Nou sien, ek is ʼn vrou van deugde en ek dink nie altyd dis goed om so tussen die kreature te sit en kuier nie. Maar soms vertel hulle die snaakste goed en dan moet ek noodgedwonge luister. Ordentlikheid vereis dit van my…

Hansie vertel ons van sy hond en hoe hy hierdie hond self gedokter het. Volgens hom het hierdie hond olik geraak en wou vir dae nie eet nie. Die dokter het gesê dis bosluis koors, maar Hansie het nie saamgestem nie. “Die hond was verstop, man. En ek het self plan gemaak. Bottel brandewyn in ʼn emmer water en die hond kry ʼn enema. Toe ek daai pyp verwyder, toe laat loop daai hond met ʼn streep sommer so oor my. Wragtig, die hond was gesuip vir twee volle dae. Ek het water en ʼn bak mince aangedra, maar hond wou net water drink. Babbelas, sien. Maar toe daai hond bykom, toe vreet hy ʼn gat in my sak in…”

Ag, en nog vele sulke staaltjies van hoe hy honde dokter. Elke keer kom die hond reg en is springlewendig agterna. Nou sien, ek het my eie idee oor hierdie hond se miracle recovery. As ek die hond was en daar is ʼn bottel brandewyn in my pens ingepomp, sou ek ook noodgedwonge sommer beter gevoel het. Nou vra ek vir Hansie of hy nie dink dit is dieremishandeling nie. “Nee, man, nog nooit gesien nie! Dit wat daai dokter doen is mishandeling. Mishandeling van my non-existent geld sake. En dan werk haar muti ook nie. Nee wat, ousus, ek doen maar self die hond ding. En daar is niks wat brandewyn nie kan fix nie.”

Akkedissie is ook nie links nie. “Die beste ding vir vlooie is paraffien. Of ou kar olie. Jy smeer sommer die hond so vol en die vlooi vrek op ʼn streep. En blousel vir ʼn siek brak. Dit maak die ergste kieme dood. My pa het altyd sy honde so gedokter. En almal het stokoud geword.” Hier trek ek egter die streep. Toontjies vol ou kar olie? My beddegoed?  Vlooitjie medisyne koop ek by Spar of die veearts. Betroubare goed wat ek weet gaan werk. En nie stink nie.

Ek het myself verskoon toe dit by raad vir wurms kom. Ek het nie kans gesien vir grafiese beskrywings van die petaljes nie. Ewenwel, die volgende oggend toe voel OMR nie te wel nie. Hy lyk sommer groen om die kiewe. Jy wil mos, dink ek so by myself. Ek is garage toe, kry ʼn stuk tuinslang en maak die leë Old Brown Sherry bottel vol koue tee. Trek my tuin handskoene aan, gryp die tregter en stap doelgerig in die kamer in. “Kniel!” beveel ek hom. Waarop hy benoud die komberse tot onder sy ken ruk en m met bang oë aankyk.

“Toe toe toe! Ek het nie baie tyd nie. Roer jou dat ek die ou enema’tjie kan toedien. Jy sal gou beter voel. As dit kan help vir verstopping, sal dit werk vir babelas ook.” Waarop hy gillende verby my hardloop en die badkamer deur toesluit. Ek het so gelag ek kon nie loop nie. Ek dink hy sal volgende keer twee keer dink. Hoe sê hulle? Spyt kom altyd te laat…

 

Leave a Reply