30 Mpumalanga-Kerswense oor 30 dae!

News

Dit is amper Kersfees en Solidariteit Helpende Hand se Mpumalanga-streek wil mense se Kerswense bewaarheid. Vanaf 15 November tot 15 Desember 2017 kan mense iemand nomineer om ‘n wens waar te maak. Daar sal oor die volgende 30 dae 30 wense ter waarde van R1000 elk gekies word.

Dalk ken jy ʼn bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ʼn buskaartjie kan bekostig nie.  Dalk weet jy van ʼn kind wat ʼn fiets benodig, maar die familie kan dit nie bybring nie, of ʼn sopkombuis wat dringend nie-bederfbare voedselprodukte benodig of ʼn ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee. Wat ook al die behoefte is, jy kan daardie persoon of instansie nomineer om hul Kerswens tot en met die waarde van R1000 te bewaarheid!

“Hierdie is Helpende Hand se kans om terug te gee,” sê Alisha de Lange, streeksorganiseerder vir die Mpumalanga-streek. “Ons het heel jaar mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons egter die geleentheid om mense se drome waar te maak. Dit is ʼn baie spesiale geleentheid.”

Nomineer sommer dadelik iemand wat jy voel ‘n Kerswens verdien, maar dit nie kan bekostig nie. Persone wat vir die Kerswens genomineer word moet in Mpumalanga woon en slegs versoeke wat per epos gestuur word aan alisha@helpendehand.co.za sal oorweeg word.

 

Vir meer inligting kontak gerus vir Alisha de lange op 082 923 1438 of stuur ʼn epos na alisha@helpendehand.co.za

 

Leave a Reply