Op pad…

Op pad

Lieze Loots

Spieëlglad. Seepglad-vredevol lyk die water. Sonder golwe wat geloof laat twyfel. Sonder branders wat jou wese bly uitmekaar laat spat. Sonder donker deinings wat jou benoud… en verskrik… en be-angs op die wal laat bly…  Maar water wat jou uitnooi om onbevrees te vaar. Wat jou uitnooi om saam te loop op die pad wat voor jou uitstrek. Wat jou dring… wat by jou bly aandring… om te waag en te doen. Wat jou aanmoedig om te bly voortgaan. Om te léwe… Water wat verseker dat vrede déél van jou siel sal bly. Psalm 23-water wat vertel van God se rus by Hom, ten spyte van die storms rondom jou. Ten spyte van die skaduwees wat jou hart wil opeet en die gevoel van verwoesting wat wil bly…

Water met beloftes van meer. Refleksies van standvastigheid… konstantheid en ewigheid. Versekering van ‘n God wat nooit verander nie. God wat dieselfde bly… gister… en vandag… en altyd. God wat altyd daar is… in gister se seer… in vandag se nou…  En in môre se onbekende om-die-draai… Hoe bemoedigend die wete dat God reeds dáár is… in môre… in veral dáár waar ek nie kan sien nie… En dáárom kan ek nie anders nie…  as om my voete op te lig nie… en te voel hoe ek opgetel en saamgeneem word nie…

En dan so saam met die waag op die water, die vaar op die water, en soms die loop op die water, word die golwe wel hoër… maar dis oorspoel- en natmaak-golwe van beloftes van trou en getrouheid… Oorvloed-branders wat vrede en genoegsaamheid bring… En omvou- en toevou-deinings van koestering-konstante liefde en genade en eer.

Leave a Reply