Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek het nog nooit soveel mense hoor kla nie. En aanhoudend kla. En teatraal histeries oor wat fout is in die dorp nie. Maar toe die mense in die strate rondhardloop met emmers en kerse en sing , waar was hulle? Kom ek vertel jou. Veilig in hulle huise want hierdie is ʼn strike en gevaarlik en so voorts.

Nou sien, daar is hierdie een vrou wat kort-kort kla oor die rioolstroom voor of agter by haar huis. Mens sou sweer sy word gevange gehou deur ʼn klinker. Hoekom het sy nie met ʼn rol toiletpapier gehardloop en die protes ding gedoen nie? Sien, ek vra maar net…

Ja, ek weet daar is baie probleme in die dorp. Ja, ek weet die powers that be konkel heelwaarskynlik. Maar ek weet ook dat hierdie Gedwonge Sonder Krag (GSK) meer vir familieverhoudings gedoen het as Dr. Phil. Nou, glo my, dis nie lekker om eers later kos te maak en al daai dinge nie. Maar, soos ek dinge sien, is dit ʼn blessing in disguise. Pa’s speel in die tuin met hulle kinders want hy kan nie sy gat voor die tellie gaan neerplak nie want daar’s nie lectric nie. Mense kom uit hulle huise uit en praat met hulle bure. Families gesels of speel games. Daar is actual communication sonder onderbrekings.

Daar is stilte, jy kan jouself hoor dink sonder die dowe buurman se TV wat teen 500 desibels skreeu. Of die mad hatter wat sy teatrale musiek teen 700 desibels speel. Selfs die gillende buurvrou het kalmeer want pa speel buite met die kinders en sy kan vir 10 minute rus en vrede hê. En dit alles te danke aan GSK.

Maar ek, Anna, het nou ‘n probleem. Daar heers ʼn doodse stilte in ons huis want Old Man River is baie moerig vir my. En ek het eintlik net ʼn grap gemaak. Nou sien, die ding het so gekom. As gevolg van GSK, het ek nou hierdie shopping app op my foon en ek kyk tog te lekker na al die wonderlike goed. En so kom ek op hierdie amazing stukkie onderklere vir mans af. En ek koop dit en wonder bo wonder, die pakkie kom by die huis aan.

Daardie aand gee ek toe nou die stukkie onderste broek vir Old Man River en se hy moet dit aanpas. Nou dis voor dit heeltemal donker is. Hy kyk my aan asof ek al my varkies verloor het maar doen in elke geval so. Ag, en hy lyk tog te oulik. En skielik is dit donker in die kamer en Old Man River gloei soos ʼn vuurvliegie. Hy wil nog ʼn kers gaan soek maar ek sê los maar die kers, jy is my vuurtoring in die donker nag. Eers dink hy ek raak nou erg romanties en toe sien hy hierdie onderbroek aan sy lyf raak.

Eers is hy sprakeloos en toe moerig en toe vererg hy hom bloedig vir my. “Hoe kon jy, Anna? Alles glow in the dark. Ons is te oud hiervoor.” En ek oortuig hom dat dit glad nie die geval is nie…

Nou, die rede hoekom hy so kwaad is, is oor die prys van die stukkie klere. Sien, ek het gedink dit is 25 rand. Wat ek gereken het is ʼn bargain. Nou blyk dit, dit was dollars. Oh well, alles in ag genome sou ek sê dit was nog steeds ʼn bargain. Nou moet ek net nog die duur stukkie klere van die light fitting afkry…

Leave a Reply