Op pad

Op pad

Lieze Loots

My hart onthou dit… Godgegewe waarheid en getrouheid… beloftes van rouklere wat uitgetrek word… die vooruitsig van feesklere wat aangetrek word…  en ten spyte van rou en hartseer wat nie meer so seer is nie, kan ek met oorgawe saam eggo… “…maar U het my van vreugde laat dans…” Ps 30:12

Kaalvoet op die strand… Die Kaapse wind wat pluk-pluk aan my klere en speel-speel met my hare. Sagte seesand tussen die tone… Voete wat deur-nat nát word… Wat self nóg meer wil plas en proe in die water. Voete wat saam met die musiek en woorde sommer self net dans en draai… en draai en dans… Ligvoets en maklik, want Hy rig my, Hy lei my. Saam met die seemeeue wat skree en vlieg en duik… Prentjie-mooi sonsondergang… Goue genoegsame genade-kleure wat my hart en siel en gees met samesyn kom verwarm. En saam met die draaie van my vreugdedans, sien ek die bevestiging… Die son se goud-verligte pad oor die see voor my… Die gerustellende geluide van branders wat aanhou breek en breek en breek, en nie kan ophou vertel van God se genade nie.  “ U Woord… Lig op my pad… “ Ps 119:105  Gister én nou én môre… Ewige vreugde en teenwoordigheid. Ewige vryheid om te ontvang en uit te deel. Vreugde laggies van kinderstemme wat kom saamdans. Ogies wat saamblink en voetjies wat saam kom splat-splat in die nat vlak golwe. Genade op genade golwe. Genoegsaamheid wat kom lê in my hart oor al die oorvloed van liefde. Oorspoel en natword en natspat-liefde. En soos die son uiteindelik wegraak oor die see, kom verlig die maan verder… Ewigdurende lig op my pad…

 

Leave a Reply