Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Sien, die ding met familie is net dit – dis familie. Ek kan verskeie “aanvullende” woorde voor familie insit, maar die editor vroutjie gaan dit net uithaal.

Kyk, daar is lede van my familie vir wie ek baie lief is, soos byvoorbeeld my sussie. Haar DNA is my DNA. So, dit is in my bloed om vir haar lief te wees. Maar, daar is dele van die family tree wat ek dink die Tree Fella moet afsny. Of verkieslik, wortel en tak moet uitroei.

Nou, almal in die familie verstaan dat ek die swart skaap is. Dit wil sê, skandalig. Maar omdat ons in Sabie – lees watervalle en naby die wildtuin – bly, dink hulle ons het ʼn gastehuis wat hulle sal akkommodeer. Die vorige keer het die lysie met goed wat hulle moet koop gewerk. Maar dit werk nie meer nie. So, ek het ʼn ander plan gemaak.

Wat ek nou doen is om elke foto wat op Sabie Service groep verskyn, te forward na hulle toe. Met vreeslike byskrifte. Soos byvoorbeeld, ons kan die reuk nie meer uitstaan nie. Kan ons asseblief vir ʼn paar weke by julle kom oorbly? Of , ons vullishoop brand. Ek kry nie asem nie! Is die lug by julle nie skoner nie? Laat weet my asseblief so gou as moontlik.

Ek kry toe mos nou die dag ʼn Whatsapp van Old Man River se familie. “Gaan dit rêrig so erg daar by julle?” Ek skryf ʼn elle-lange boodskap terug waarin ek elke liederlike tekortkoming van ons dorpie in verkondig. Met smaak. En ek kry ʼn foto van ʼn droë rivierloop en stuur dit met “ons watervalle het opgedroog.” Met baie huil gesiggies.

Ewenwel, hulle glo my. Soort van, ek dink. Gister toe kry ek mos ʼn wrede Whatsapp van die familie af. “Anna, wat gaan daar aan? Jy moet net sê as jy ons nie daar wil hê nie.” Well, anyway, ek dog toe, nou’s my kans. En ek skryf terug: “Nee, ek wil julle nie hier hê nie. Maar ek kan goeie gastehuise aanbeveel.” Ag, mense, nie lank nie, of hier stop Old Man River. Nou is ek in die moeilikheid, weet ek sommer.

“Anna, wat het jy nou weer aangevang?” wil hy moerig weet. “Ek was vir eens eerlik met jou familie.” antwoord ek hou reguit. “Hoekom?” wil hy weet. “Want, sommer…” En oor en weer vlieg die woorde tussen ons. En ek is kwaad verby. Ewenwel, toe hy terug werk toe ry, stuur ek ʼn laaste Whatsapp aan die familielid. “Ek stuur jou boetie vir jou. Met al sy vuil klere wat ek nog nie gewas het nie. En ʼn lys van die pille wat hy moet drink. En die salf vir sy aambeie. Wend asseblief drie maal per dag aan. Hy ken die dril…”

Nou ja. Ek het blomme gekry by Old Man River. “Skies, ek was verkeerd. My suster het gebel en gesê sy het verkeerd verstaan.” Anna 10 – Familie 0…

 

Leave a Reply