Op pad

Op pad

Lieze Loots

‘n Stukkende treinspoor… wat kronkel-kronkel strek… oor heuwels en deur valleie, en verdwyn in die verte… Opgebruik en laat staan.  Amper soos die voos-geryde paaie vol potgate. Sonder waarde. Sonder nut. Met geen doel oor nie… staar die spoor die horison in, herinneringe van wat was… eens se vrolike vol geluide en swaar vragte… soos mis in die son.

En soos ek oor die spoor klim, en nostalgie my ‘n oomblik vasvat, kom lê daar ‘n duidelik-seker wete diep in my hart… Vul dit my hart op met warmte en veiligheid… Die wete van my waarde… Ek word nie bepaal deur my hier en nou se stukkende spore en potgat-paaie nie. My waarde lê nie in al my soet én seer herinneringe nie, in my onthou van en nostalgie oor die verlede nie… En ook nie deur my verwagting en uitsien na die toekoms nie…

Maar… Ek is die een vir wie God lief is… Niks anders maak saak nie. God se liefde vir mý, gee my waarde. God se liefde vir mý, maak my spoor weer reguit en bruikbaar. God se liefde vir mý, vul al my gate en leemtes op… En bly my pad steeds gelykmaak… Maak my hart elke dag heler. Dit is sy liefde vir my wat bepaal wie ek is. Wat my rigting en koers aandui. Wat my Lig is. Wat maak dat ek ís… my wese asemgee… En dit is Hý wat al die engele stilmaak om na my gebede te luister. God en Vader wat my hoog ag. My ‘n nuwe lewe gee.

Mag jy dit ook raaksien … “My refuge is God… the God who loves me. “ Ps 59:17

 

Leave a Reply