Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

So ‘n paar jaar terug het Old Man River mos hierdie lawwe idee in sy kop gekry om meer oefening in te kry. Ek het die storie van die kant af bekyk en nie veel gesê nie. Dis nou totdat hy gereken het ek moet saam doen…

 

Nou kyk, ek en oefeninge is nie maatjies nie. Die blote idee dat ek my tot die uiterste moet inspan om iets te doen wat onnatuurlik is vir my lyf, laat my in koue sweet uitslaan. Amper soos iemand wat koors het. Sien, hy het hierdie staproete ding gelees en gedink dis ‘n wonderlike idee.

 

Met oorgawe koop hy toe twee rugsakke. Daarna al die dinge wat daar moet ingaan. En slaapsakke. En nog ‘n ton goed wat, as ek reg verstaan, oor berge en dale op my rug moet saamdra. Soos ‘n pak donkie. En ek hou al hoe minder van die idee. Ewenwel, die dag breek aan en ons pak ons goed en daar gaan ons. Vroeg die volgende oggend val ons in by hierdie groep geharde stappers en ek reken hierdie gaan ‘n marteling wees.

 

Ewe braaf struggle ek in die straps van die sak in en gryp my handbagasie. En dis waar die eerste probleem toe opduik. “Anna, wat is in daardie sakke?” wil hy weet. “My padkos en wyn,” antwoord ek. “Jou wat?” En ek herhaal myself hard en duidelik terwyl ek die sakke dramaties rondswaai. Waarop Old Man River net sy hande in die lug in gooi en begin stap. Na 500 meter begin ek kla oor my geweldige swaar las op my rug. Op 600 meter skud ek die sak van my rug af en grawe my wyn uit. Net daar in die skadu van ‘n groot boom gooi ek my eerste glas wyn en maak myself gemaklik.

 

“Wat maak jy?” wil OMR befoeterd weet. “Ek drink wyn.” “Jy gaan maak dat ons agter gelos word.” “Well, in daardie geval stel ek voor jy draf om by te bly en los my net hierso,” antwoord ek. Woorde vlieg wild tussen ons en daar gaan hy. Hoogs befoeterd. Nou sien, niemand het my gesê die hele gestappery hou vir 5 volle dae aan nie. Ek het daardie stukkie inligting gekry die oggend. En ek, Anna, het my eie idees van wat werk en wat werk nie. En die hotel waar ons oorgeslaap het, was in sig…

 

Terug by die hotel, stap ek reguit na die ontvangs toe. “Ah, Madam Anna, you made it back! Here’s your room key. I’ve also booked 5 spa sessions for you. Just like you asked…” Ag ja, as jy nie sterk is nie, moet jy maar slim wees…

 

 

Leave a Reply