News

Wat hou die toekoms vir Afrikaanse skoliere in?

News Desk

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met die Wolkskool vorendag gekom om aan die veranderende behoeftes van vandag se skoliere te voorsien.

“In vandag se tyd is skool nie meer soos dit in die verlede was nie. Kinders word reeds van vroeg af deur ’n menigte uitdagings gekonfronteer wat volwassenes maar net van kan droom. Die behoefte aan ’n nuwe manier van skoolgaan is groter as ooit,” sê Marlien van der Westhuizen, Helpende Hand Mediaskakelbeampte.

Die Wolkskool is ’n aanlyn platform wat aan Helpende Hand-ondersteuners toegang gee tot opvoedkunde video’s wat 24-uur per dag beskikbaar is. “Die Wolkskool bied video’s oor spesifieke onderwerpe vir Graad 4 – 12 leerders in Wiskunde, Graad 8 – 12 Afrikaans en Rekeningkunde vir Matrieks. Daar is ook ’n spesiale aanlynwinkel op die webwerf beskikbaar, waar werkkaarte, vraestelle met memorandums en ander hulpmiddels teen ’n fraksie van die prys verkoop word.

En as dit nie genoeg is om jou te oortuig nie, kry kinders nou ook toegang tot ’n wiskunde-kenner wat hulle 24-uur ’n dag kan bystaan met moeilike vrae.”

Die gebruik van video’s as onderrigmodel hou kinders langer gefokus en hulle onthou die feite ook beter. “Ons wil dit graag moontlik maak vir enigiemand om die beste gehalte Afrikaanse video’s te kyk,” sê Anita Lourens, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Helpende Hand-ondersteuners kry gratis toegang tot die Ons Skool-kanaal en mense wat nog nie Helpende Hand-ondersteuners is nie, kan aansluit vir R50 of meer per maand.”

Om toegang tot die Wolkskool te kry, SMS die woord “WOLK” na 39950 en sluit aan as ’n Helpende Hand-ondersteuner.  Besoek www.wolkskool.co.za om self te kyk hoe die sisteem werk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *