Sabie Laerskool vier die lente

Schools

Sabie Laerskool se twee-jaarlikse Dames Lente tee was op 2 September aangebied in die skoolsaal.  180 Dames en 2 brawe mans het hul kaartjies gekoop om die skool se fondsinsameling by te staan.

“Ons het die tafels in skakerings van pienk gedek met die heerlikste snoeperye vir ons gaste.  Ons   gaskunstenaar was Rian Ungerer van Johannesburg en sy klankman Christiaan.  Hul het ons vermaak met lekker sang en musiek.  Rian se energie het bykans al die dames op ‘n stadium op hulle voete gehad om saam boudjies te swaai,” het Mariaan Janse van Rensburg gesê.  Sy is die Administrateur van Sabie Laerskool, asook die organiseerder van die Lente Tee, en ander projekte soos die jaarlikse Bokkie boekies fondsinsameling.

Wear Necessities van Perry’s Bridge in Hazyview het ‘n baie suksesvolle modeperade aangebied en meeste van die uitrustings is uitverkoop op die dag van die Lente tee.  Wear Necessities bied ‘n verskeidenheid uitrustings aan, en spesialiseer ook in klere vir die groter vrou.

“Soos julle almal seker bewus is,  is dit een van Laerskool Sabie se fondsinsamelings geleenthede en steun ons kwaai op ons besighede,  vriende en ouers van ons skool,  sonder julle kon dié dag nie plaasgevind het nie. Daar is te veel name om op te noem.  Baie,  baie dankie aan ‘n ieder en elk vir jul bydraes.  ‘n Groot dankie ook aan almal wat die dag bygewoon het,  dit was beslis die moeite werd.  Dankie ook aan al Sabie Laerskool se onderwysers en personeel wat my bygestaan het om hierdie dag weereens ‘n reuse sukses te maak,” sluit Mariaan af.

Leave a Reply