OP Pad

Op pad

Lieze Loots

Die prentjie-geskenk begin die vorige aand al… ‘n Blinkhelder, vól-volmaan wat in die grootse glorie opkom oor die horison… Vanaf die oostekant af… al die pad deur die hemelkoepel tot by die weste. Verby sterre en planete. Oor berge en deur dale. Tussen bome en ruigtes deur. Tussen valleie deur en met watervalle af. Ongehoor en onverstoor… getrou… word die uitgesette pad gevolg… om die donkerste deel van die nag te verlig. Om hoop te bring. Om dan vroeg, in die fris koelte van die oggend reg vóór my tot stilstand te kom… asof net vir my… asemsnakkend prentjie-mooi…

En so saam met die helder van die maan hier by my… en soos die vreugde van lewe deur my spoel, klop die waarheid-wete in my hart en siel… ek is vry!  Vry van die verlam-gevoel van hartseer en pyn. Vry van lam-wees. Vry van die verlede se bagasie. Vry van vrees. Vry van bang en benoud wees. Vry van bekommer oor môre. Vry van my sonde se vas-wees. Vry van moets en moenies. Alles vrygemaak en losgemaak en heelgemaak deur die Een wat die heelal in plek hou. Wat die maan en die son se pad uitwerk en in stand hou. Die Een wat elke dag se prentjie-mooi prentjies skilder… genade-geskenke soos die lentëreen… Om te seën en te bederf.

En soos ek die maan sien verdof in die son se teenwoordigheid, en soos ek sien hoe dit  verdwyn agter die berg… wéét ek ook… mý vryheid raak nie weg nie. My vryheid verdof nie… “Daarom sal ek sing tot U eer, sal ek nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof” Psalm 30:13

 

Leave a Reply