Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Ek weet nie altyd of lente so ‘n goeie ding is nie. Sien, daar is al hierdie lente bloeisels en stuifmeel en blomme en stuifmeel en al wat ‘n floppen female is dra perfume wat soos blomme en stuifmeel ruik. Wat is dit tog met die mense? My sinusse protesteer, my budget is na moer met al die allergie medisynes en snesies. Self Old Man River het gesê geen verdere snesies nie. “Koop witgoud en gebruik dit,” was sy woorde.

 

Nou kyk, my sensitiewe neus is rooi en ontvel van die toiletpapier wat ek nou noodgedwonge moet gebruik. Maar ja, hy reken ek is so hardegat dat self ‘n rasper stomp gevyl sal word teen my neus. Maar dit help nou nie ek word kwaad daaroor nie, nè. Ewenwel, ek word uiters stief behandel deur die lente en somer. Waar ander mense erg vrolik is oor die nuwe lewe en aangaan op een tokkie oor hoe hulle uitsien na die warm somersdae, bid ek vir die winter en dooie blomme.

 

Wel, ek het gelees van hierdie medisyne wat wonderlik werk vir hooikoors. En dit gekoop. En gebruik. Nog voordat ek uit die apteek uit was. En voordat ek Spar toe was. Wat ‘n groot fout was. Sien, ek was net mooi halfpad deur my shopping toe die wêreld skielik lentekleurig lyk. En ek voel toe uitermatig vrolik. Amper soos ‘n huppeldans van ‘n lammetjie in die lente. Wat ook ‘n groot fout was. Al singende slinger ek toe deur die winkel en laai al die helderkleurige verpakkings in my waentjie. Maar ek verbeel my ek huppel en sing saam met ‘n engelekoor. Wat ‘n vreeslike fout was…

 

Ewenwel, nie lank nie, of ek word ferm aan die elmboog vasgevat. Old Man River to the rescue! “Anna, wat def.. dink jy doen jy?” wil hy kwaad weet. “Ek sjing en ek bruppel, die sente is vreeslik mooi…” probeer ek hom meedeel… Waarop hy my uit die winkel uit sleep, reguit dokter toe. Nou ja, om ‘n lang storie kort te maak: my allergieë was allergies vir die allergie medisyne.

 

Twee dae later was ek eers mooi wakker. Old Man River se eerste woorde aan my: “Wil jy nog sjing en bruppel? Of is die lente nie meer mooi nie?” Ag ja wat… ek sal maar eers volkome herstel voordat ek weer die winkels invaar. Miskien eers in 2020…

Leave a Reply