Op pad…

Op pad

Lieze Loots

Ek ken die afdraaipaaie. Die kronkelpaaie. Die op-en-af-paaie. Swaar opdraandes en meesleurende afdraandes. Maar ek ken ook U stem en aansporing. Ek ken U aanmoediging en bemoediging. Ek ken U hunkering na my . Ek ken my hunkering na U. Ek ken U aanpor. Gereelde aanhelp. Aanstu. Ek ken die engele om my. Ek ken U hand wat beskerm. Wat toevou en koester. Hande wat sagkens leiding gee. Ek ken U aanraking wat rustig maak. Ek ken U vrede wat my verstand laat wonder en verbyster los. Ek ken U genade wat my wese omvou.

Ek ken U heling wat regmaak. Wat ‘n stukkende hart vasplak en gom Ek ken U Woord van Waarheid wat vrymaak. Ek ken U beloftes van hoop en voorspoed en getrouheid. Oorvloed. Ek ken U hart vir my. Ek herken U hart in my hart vir dié rondom my. Ek ken die spore wat voor my lê. Paaie uitgetrap en reeds gestap. Voorberei. Gereed. Ek herken U stem in die stilte om my. Ek herken U stem in die mooi geraas van die naguiltjie, en in die lied van die blare wat dans. Ek ken U vastigheid met elke oggend se oopte. Skoonheid van blou-blou lug en rotsvaste berg. Ek ken U genade van elke dag se máák… Elke dag se dra. Oplig. Bekendheid van hande wat help dra…  Hande opgelig in dankbaar-lof en aanbidding en eer. Ek ken U liefde vir my… bevestig met getrouheid… in die eerste dag van asem-wegslaan-seeer. In elke volgende dag. In elke week. In elke jaar.  Blywend… koesterend… vir nog ‘n jaar…  en nog ‘n jaar.

Maar hoeveel meer genadig is dit nie, dat ek ook U toekoms-beloftes ken… beloftes van goedheid en guns en genoegsaamheid… meer as genadig-genoeg.

 

Leave a Reply