Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Lank, lank gelede was daar ‘n dorpie aan die oewers van ‘n pragtige rivier. Hier het die inwoners gebly, getrou, kinders gekry en dood gegaan. En die volgende geslag het maar net weer dieselfde gedoen. Tot vervelens toe. Nuwe mense het bygekom en hulle gatvelle is vir die eerste vyf jaar deur die locals afgetrek totdat hulle gesien het die nuwelinge is ook maar net mense.

So het hulle vir baie jare aangegaan en vooruit gegaan. Regerings het gekom en gegaan en toe het dinge net bly vassteek op een trant. Die dorp het groter geword nadat goud ontdek is en die industriële rewolusie, as mens dit so kan noem, het gemaak dat daar nuwe besighede aangeteel het. Die boompies wat orals aangeplant is het ook gehelp om die dorp op die map te plaas.

Maar toe strike die pôpo die fan. Die rivier word besoedel, die klein vissies vrek en die watergate droog op want daar was te veel mense wat water wou gehad het en die regering kon nie cope nie. Toe pak die pompe op en die illegal connections maak die krag trip en die pomp breek en die contractor wat die nuwe pype en pompe moet insit verdwyn net. Maar hy het weer terug gekom ook. Die electric mense sê hulle gaan die krag afsny want die munisipaliteit betaal nie al betaal die mense hulle en toe sit die dorpie sonder ‘lectric en water. En die rubbish lorry breek want die geld vir repairs is daar nie so die honde skeur die sakke oop en almal kla.

Die inwoners begin onder mekaar te baklei, maar nie face to face nie. O nee. Op hulle slim fone  want almal Whatsapp vir ‘n vale en niemand is bereid om te help rubbish optel of om te sien of hulle iewers kan help nie. Soos om vir die arm mense wat nie motors het nie water aan te ry. Nou ja, so gaan die dorpie agteruit en agteruiter. En om alles te kroon, baklei die mense wat niks doen nie met die mense wat iets probeer doen.

Die mense wat weet wat aangaan swyg soos die graf en wil niks sê nie want niemand weet wat die ander ou gelieg het nie. So, daar is net een ou wat iets mag sê want hy ken al die stories. Nou kyk, ek weet nie van julle nie, maar hierdie is nie ‘n bedtime storie wat ek vir my kleinkinders gaan vertel nie. Ek is bang hulle glo my nie want hierdie storie is meer vergesog as Rooikappie of Alice in Wonderland.

Nee, kyk, hierdie Grimmige Fairytale vertel ek nie oor nie. Ek sal maar hou by Hansie en Grietjie en Sipho en die Seekoei. Dit is veel veiliger. En my geloofwaardigheid sal nie in die slag bly nie. So, lank, lank gelede in Sabie…

 

 

 

Leave a Reply