Op Pad…

Op pad

Lieze Loots

Hospitaalgang-mense… Mense op en af. Trollies wat jaag. Doelgerigte voetstappe, maar ook dralende, versigtige, huiwerige en amper verlore stappe… Lag en gesels. Teen ‘n muur staan en huil. Wagtend voor ‘n toe deur. Elkeen met ‘n eie storie. Elkeen deel van ‘n eie verhaal. Van hoop en bid en geloof. Van volkome vertroue. In God se almag, in God se krag om te genees. Ook verhale van ongeloof en twyfel. Bekommerd-wees. Innerlike stryd en stoei oor hoekoms en waaroms. Van nie verstaan nie. Maar veral ook stories van wonderwerke… klein en groot…. Stories van oorloop-genade om dit álles raak te sien…  Stukkie-vir-stukkie oopgelê… Geopenbaar… Uitgepak… Legkaart-wonderwerke. Antwoorde op gebede voor dit nog gebid is. Getuienis van herstel en heling voor daarvoor gesmeek is… Voor daarvan geweet is… Lewe in oorvloed… Hoe groot ons beskerming… Hoe ryklik is ons seëninge nie… God wat genees. God wat herstel. God wat vooruitgaan en voorberei. Genade wat nie beskryf kan word nie. Genade wat nie gemeet kan word nie. Genade genoeg om wel op te staan. En staande te bly. En aan te gaan. Genade wat wys in strome dankbaarheid-trane. Genade om te bly liefhe. Om te bly omgee. Om te bly hoop en te bly glo en te bly vertrou. Ten spyte van die geraas van omwaai-onstuimighed. En in die middel van dreigende platslaan-branders… Staande en sterk… Want sonder die konstante Gees-teenwoordigheid is ons niks. En kan ons niks. Sonder die konstante toevou-liefde van die Vader is niks sinvol nie. Sonder die redding en oorwinning van Jesus bly ons lewe leeg. Mag dít wat ons doen en hoop en glo, vir U aanneemlik wees…

Leave a Reply