Alternatiewe Anna

Alternatiewe Anna

Vandag wil ek julle vertel van die GPS News se Editor Vroutjie. Nou kyk, almal weet dat sy ‘n hart van goud het. Hoe sy die soliede goue hart saamdra, weet ek nie, want dit moet baie swaar weeg…

En almal dink sy is ‘n softie, wat waar is aan die eenkant, maar sy het genuine backbone ook. Serious backbone en ‘n wil van staal. Maar wat baie mense nie weet nie, is dat sy wild-stout kan wees en ‘n wonderlike sin vir humor ook het. Soos die keer, jare terug, wat ek en sy ‘n teef hond agterna gesit het in die straat.

Sien, dit het so gebeur. Sy het die oggend vroeg by my ‘n draai kom maak om my, soos gewoonlik, aan te spreek oor ek nog nie my geskriffie vir haar gegee het nie. En met die dat ek die hek oopmaak, hardloop hierdie vervloekste Toontjies uit en straat af. En ek is in my pajamas want ek is goed soos daai. Anyway, ek hardloop toe vyf tree agter die blêddie hond aan en besef net daar en dan: Pajamas in hierdie grênd straat gaan nie werk nie. Daar steek ek verbouereerd vas en gil toe maar op die hond. Wat ook nie werk nie want sy het haar boyfriend gesien en hardloop soos ‘n slegte straathond agter hom aan.

“Klim in!” skreeu die Editor vroutjie vir my. En soos ‘n goeie, gehoorsame mens spring ek toe nou maar in haar kar in en daar trek sy. In die straat af op soek na Toontjies. Naderhand toe kry ons hierdie hond waar sy dik stukke vry met haar honde-kêrel. “Klim uit en kry die hond,” beveel sy my. “Nee.” sê ek en weier om uit te klim. “Kry die blêddie hond,” beveel sy weer, maar ek sit. Teen die tyd het Toontjies ons gesien en opgehou met haar kaskenades…

“Nou wat nou?” wil sy by my weet. “Net een genade…” sê ek en hang halflyf by die motor venster uit. Met my, al skreeuend op die hond, wat hardloop of haar lewe daarvan afhang, ry die Editor vroutjie toe nou maar terug na my huis toe. Maar sy lag so dat sy amper nie kan bestuur nie. Wat ‘n spektakel moes ons nie gemaak het nie… Een gillende vrou, een laggende Editor en een teef wat hardloop soos ‘n windhond om van die geraas af weg te kom.

Kyk, daardie oggend het vir my iets baie belangrik geleer. Dis nou behalwe dat mense vreeslik geskinder het oor die spektakel. As die Editor vroutjie sê klim uit en vang die hond, dan doen jy. Want soms weet sy net beter as wat ek, Anna, weet. Sometimes it doesn’t pay to advertise…

Leave a Reply