Op Pad

Op pad

Lieze Loots

Daar is weer ‘n bekende vroegoggend winterbyt in die lug. Verfrissende ysigheid wat teen my wange kom aanlê. En dan die pad teen my baadjie volg en by my voete gaan inklim en my probeer koudmaak. Die glinster-ryp lê soos sagte sneeu lang s die pad, tussen die bosse…  Elke asemteug maak wit prentjies in die lug… Verder teen die berg uit, omvou die mistigheid geheel en al.  Dan nog verder… uit die mismassa, staan ons woordeloos en kyk na die wolkkombers wat die horison soos ‘n deksel toemaak… Die snerpende bergwind wat met hare speel en nog meer wil índring…  Koue om en oor en voor my… Maar nie ín my nie. Want in my hart is dit warm. Warm gemaak deur die mooi wat voor my lê. Deur die son se opkom-glorie oor die berge. Warm gemaak deur die skyn van die maan in die nag… die vonkeling van die sterre. Deur die weerkaatsing van kleur in die blink van die oggenddou. Die vrolikheid van vroeg-oggend voëlgesang. Deur die knettering van ‘n kaggelvuur. Die geselligheid van ‘n knus kombers en die voorreg en bekendheid van ‘n vol huis… Lag en pret en planne.  Maar veral is my hart opgewarm deur die genade van wéét… dat God se goedheid en guns my volg én my pad vooruitgaan. My hart is warm omdat ek wéét dat God se liefde my beskerming is. Omdat ek wéét dat die Gees van God my Trooster is as heimweë en hartseer by my hart wil inklim… En omdat ek wéét dat die God wat vrede gee… dit vir my kom wys in die mooiste winter-warm, maar ook in die koudste koue-kleurskakerings…

Leave a Reply